Eksodus 37:1-16 Die Boodskap (DB)

1. Besaleël het die ark gemaak waarin die bewys van die ooreenkoms gekom het. Dit was van akasiahout. Dit was 115 sentimeter lank, en 70 sentimeter breed en hoog.

2. Hy het dit aan die binne- en buitekant met suiwer goud oorgetrek. Aan die buitekant het hy ’n versierde goue rand gesit.

3. Hy het vier goue ringe gemaak waardeur drastokke gesteek kon word. Hy het die ringe aan die onderste vier hoeke aan die lang kant van die ark vasgesit, sodat daar twee ringe aan die voorkant en twee ringe aan die agterkant was.

4. Hy het daarby drastokke van akasiahout gemaak wat deur die ringe kon pas en hulle ook met goud oorgetrek.

5. Hy het toe die drastokke deur die ringe van die ark gesit om dit daaraan te kan dra.

6. Hy het ’n deksel uit suiwer goud gemaak wat op die ark pas. Dit was 115 sentimeter lank en 70 sentimeter breed.

7. Hy het ook twee beelde van hemelse figure met vlerke uit goud gemaak.

8. Hulle is bo-op die deksel vasgesit, aan die twee punte daarvan.

9. Hulle gesigte was na mekaar toe en hulle het hulle vlerke oor die deksel uitgesprei gehou asof hulle dit beskerm.

10. Besaleël en sy mense het verder die tafel gemaak waarop die brode neergesit moes word. Dit was van akasiahout, 92 sentimeter lank en 46 sentimeter breed. Dit was 70 sentimeter hoog.

11. Hulle het dit met suiwer goud oorgetrek en ’n goue rand reg rondom vasgesit.

12. Daar is ook ’n lys reg rondom die tafel vasgesit waaraan daar ’n goue rand was.

13-14. Hulle het ook vir die tafel vier goue ringe gemaak waardeur drastokke gesteek kan word. Hulle het die ringe aan die lang sye onder aan die hoeke, net onder die lys vasgesit. Daar kon twee stokke daardeur gesteek word om die tafel te dra.

15. Hulle het die drastokke van akasiahout gemaak om deur die ringe te pas. Ook dié drastokke is met goud oorgetrek.

16. Daarby het hulle die skottels en bakke waarin die geurige offers kom, en die flesse en komme wat by die tafel gebruik word, van suiwer goud gemaak.

Eksodus 37