17. Jy mag nie vir jou ’n beeld maak wat uit metaal gegiet is om dit te aanbid nie.”
18. “Onthou om die fees van die brood sonder suurdeeg te hou. Soos Ek vir julle gesê het, moet julle sewe dae lank kos eet wat nie suurdeeg in het nie. Julle moet dit gedurende die maand Abib doen. Dit is die maand waarin julle uit Egipte weg is.
19. “Al die eerste manlikes wat ’n ma in die wêreld bring, behoort aan My. Dit is jou seun, maar ook die bees of die skaap wat eerste gebore word.
20. As dit ’n donkie is, moet jy dit omruil met ’n skaap. As jy dit nie wil omruil nie, moet jy die donkie doodmaak. Jou oudste seun moet jy met geld uitkoop. Niemand mag sonder ’n offer voor My kom nie.
21. “Hou ses dae lank aan met jou werk. Op die sewende dag moet jy daarmee ophou. Op daardie dag moet jy rus. Dit maak nie saak of dit ploegtyd of oestyd is nie.
22. Hou die oesfees wanneer jy begin oes en die eerste graan van die land af begin kom. Hou ook die fees aan die einde van die oestyd.
23. By al drie hierdie feeste moet al jou mansmense die Here, die God van Israel, by sy woonplek kom aanbid.
24. Niemand sal julle grond probeer afneem wanneer julle vir hierdie drie feeste weg is van die huis om tot die Here te gaan bid nie. Ek sal die nasies voor jou uit wegjaag. Ek sal die grond wat aan jou behoort, al meer maak.
25. Jy mag nooit brood waarin daar suurdeeg is, saam met diere offer nie. Die paaslam by die paasfees mag ook nie oorstaan tot die volgende oggend nie.
26. Jy moet die beste deel van die eerste oes wat jy uit die grond haal, vir die Here na sy blyplek toe bring. Jy mag nie ’n boklam offer wat so pas gespeen is nie.”
27. Die Here het vir Moses gesê: “Skryf hierdie woorde neer. Hulle is die reëls vir my ooreenkoms met jou en Israel.”
28. Moses was 40 dae lank daar by die Here op die berg. Hy het niks geëet of gedrink in daardie tyd nie. Die Here het die tien reëls vir sy ooreenkoms met Israel op die plat klippe geskryf wat Moses gekap en saamgebring het.
29. Toe Moses van die berg Sinai afkom met die plat klippe in sy hand - die bewys van hulle ooreenkoms met God - het Moses nie geweet dat die vel op sy gesig geblink het nadat hy met God gepraat het nie.