12. “Wees versigtig dat jy nie ’n ooreenkoms sluit met hierdie mense wat in die land bly waarheen jy gaan nie. Jy gaan in ’n strik trap as jy dit doen.
13. Jy moet hulle aanbiddingsplekke afbreek. Maak hulle klippilare gelyk met die grond. Kap die pale af wat hulle vir hulle godin Asjera geplant het.
14. Moenie ’n ander god aanbid nie. Ek verdra dit nie dat jy ander gode aanbid nie. Ek verwag van jou dat jy in alles net aan My getrou sal wees.
15. Moenie ooreenkomste maak met die mense wat reeds in die land woon nie. Wanneer hulle agter hulle gode aandraf en vir hulle offers bring, sal hulle julle uitnooi om saam met hulle aan hulle offermaaltye deel te neem.
16. Wanneer julle met hulle begin ondertrou en van hulle meisies vir julle seuns as vroue vat, sal julle dogters en julle seuns agter hulle gode begin aangaan en hulle godsdiens volg.
17. Jy mag nie vir jou ’n beeld maak wat uit metaal gegiet is om dit te aanbid nie.”
18. “Onthou om die fees van die brood sonder suurdeeg te hou. Soos Ek vir julle gesê het, moet julle sewe dae lank kos eet wat nie suurdeeg in het nie. Julle moet dit gedurende die maand Abib doen. Dit is die maand waarin julle uit Egipte weg is.
19. “Al die eerste manlikes wat ’n ma in die wêreld bring, behoort aan My. Dit is jou seun, maar ook die bees of die skaap wat eerste gebore word.
20. As dit ’n donkie is, moet jy dit omruil met ’n skaap. As jy dit nie wil omruil nie, moet jy die donkie doodmaak. Jou oudste seun moet jy met geld uitkoop. Niemand mag sonder ’n offer voor My kom nie.
21. “Hou ses dae lank aan met jou werk. Op die sewende dag moet jy daarmee ophou. Op daardie dag moet jy rus. Dit maak nie saak of dit ploegtyd of oestyd is nie.
22. Hou die oesfees wanneer jy begin oes en die eerste graan van die land af begin kom. Hou ook die fees aan die einde van die oestyd.
23. By al drie hierdie feeste moet al jou mansmense die Here, die God van Israel, by sy woonplek kom aanbid.
24. Niemand sal julle grond probeer afneem wanneer julle vir hierdie drie feeste weg is van die huis om tot die Here te gaan bid nie. Ek sal die nasies voor jou uit wegjaag. Ek sal die grond wat aan jou behoort, al meer maak.
25. Jy mag nooit brood waarin daar suurdeeg is, saam met diere offer nie. Die paaslam by die paasfees mag ook nie oorstaan tot die volgende oggend nie.
26. Jy moet die beste deel van die eerste oes wat jy uit die grond haal, vir die Here na sy blyplek toe bring. Jy mag nie ’n boklam offer wat so pas gespeen is nie.”