2. Op elke hoek moet jy ’n uitsteeksel vassit wat soos die horings van ’n bees lyk. Jy moet die hele altaar met koper oortrek.
3. Die gereedskap wat by die altaar gebruik word, moet ook alles van koper gemaak word. Die gereedskap is die panne waarin die as uitgekrap word, die skoppe, die komme, die vurke en die panne waarin die vuurkole geskep word.
4. Maak ook ’n rooster van koper vir die altaar. Sit vier koperringe daaraan vas waardeur drastokke vir die altaar gesteek kan word.
5. Sit die rooster aan die boonste helfte van die altaar vas sodat dit tot bo by sy rand kom. Sit ook die koperringe op die hoeke van die altaar vas.
6. Maak drastokke van akasiahout vir die altaar en trek dit oor met koper.
7. Wanneer die altaar gedra moet word, moet die drahoute deur daardie ringe gesteek word sodat vier mense, twee aan elke kant, dit kan dra.
8. Soos Ek vir jou op die berg gewys het, is die altaar ’n houtkis wat binne hol is.”
9. “Jy moet vir die tent ook ’n binnehof maak. Dit is ’n vierkantige lapa met fyn linnemure. Aan die suidekant moet dit 44 meter lank wees.
14-15. met tien meter muur aan elke kant van die ingang. Die linnemure aan al twee kante van die opening hang ook elkeen aan drie regop pale wat op voetstukke staan.
16. Vir die ingang wat na die binnekant van die lapa loop, moet jy ’n gordyn maak uit geweefde linne met blou, pers en bloedrooi weefwerk en borduursel. Dit hang aan vier regop pale wat op voetstukke staan.
17. Al die regop pale wat reg rondom die binnehof gebruik word, moet met silwergordynstokke aan mekaar verbind word. Die stokke moet silwerhakies hê waaraan die linnemure opgehang kan word. Elke paal staan op sy eie kopervoetstuk.
18. Die binnehof is dus 44 by 23 meter groot en die geweefde materiaal aan die kante is twee en ’n half meter hoog en hang aan pale op kopervoetstukke. “
19. Soos al die gereedskap wat binne-in die tent gebruik word, moet die tentpenne waarmee die mure van die afskorting geanker word, ook van koper gemaak wees.”
20. “Jy moet vir die Israeliete sê om vir jou suiwer olyfolie te bring. Jy moet dit gebruik om die lampe in die tent aan die brand te hou.
21. Die lampe op die ligstaander in die tent moet dwarsdeur die nag bly brand. Aäron en sy seuns wat saam met hom in die tent werk, moet daarna kyk en sorg dat dit altyd brand in die deel voor die gordyn waaragter die ark met die bewys van die ooreenkoms is. Dit is ’n vaste reël in Israel wat deur elke daaropvolgende geslag gehoorsaam moet word.”