Eksodus 12:38-46 Die Boodskap (DB)

38. Daar het ook ’n hele klomp mense saam met hulle getrek wat nie Israeliete was nie. Daar was ook ’n groot klomp kleinvee en beeste.

39. Hulle het brood gebak met die deeg wat hulle uit Egipte saamgebring het. Daar was nie suurdeeg in nie. Hulle moes so vinnig uit Egipte padgee dat daar nie nog tyd was om eers padkos te maak nie.

40. Die tyd wat Israel in Egipte gebly het, was altesaam 430 jaar.

41. Presies op die dag dat dit 430 jaar was, het die mense van die Here uit Egipte padgegee.

42. Dit was ’n nag om baie lank nog te onthou toe die Here dit laat gebeur het dat hulle uit Egipte kon wegtrek. Dit is ’n nag wat die Israeliete en hulle nageslag vir die Here moet onthou.

43. Die Here het vir Moses en Aäron nog meer reëls vir die paasviering gegee: “As iemand nie ’n Israeliet is nie, mag hy nie saam die paaslam eet nie.

44. ’n Slaaf wat met geld gekoop is, mag daarvan eet, maar hy moet reeds besny wees.

45. Iemand wat net vir ’n tyd in die land bly, of gehuur is om ’n bepaalde stuk werk te doen mag nie saam eet nie.

46. Die paaslam moet in die huis geëet word waar dit geslag is. Daar mag niks van die vleis uit daardie huis weggevat word nie. Die bene van die paaslam moet nie gebreek word nie.

Eksodus 12