Deuteronomium 18:5-15 Die Boodskap (DB)

5. Want die Here het hierdie mense, die kinders van Levi, gekies om in sy huis te werk. Hulle moet vir altyd werk waar Hy teenwoordig is. Hulle kinders en kleinkinders moet ook in my huis werk.

6. “Enige mens wat aan die stam van Levi behoort en in een van die dorpe van Israel bly, mag in sy huis kom werk as hy wil. Sy huis is die plek wat Hy gekies het om in te woon.

7. Daar mag hy dan werk waar Hy teenwoordig is, net soos die ander kinders van Levi wat daar werk en die Here hulle God dien.

8. As hy in die Here se huis werk, moet hy ook sy deel kry van die offers sodat hy daarvan kan lewe. Selfs as hy genoeg het om vir homself te sorg, moet hy ’n deel van die offers kry.”

9. “Wanneer jy kom in die land wat die Here jou God vir jou gaan gee, moet jy baie versigtig wees dat jy nie maak soos die mense wat nou nog in daardie land bly nie. Hulle doen afskuwelike dinge.

10. Jy mag byvoorbeeld nie jou seun of dogter as ’n offer verbrand om heidense afgode te aanbid nie. En jou mense mag ook nie ander se fortuin vertel of volgens die sterre dinge vir mense voorspel nie. Hulle mag ook nie by toordery betrokke raak nie. Jy mag nie toelaat dat iemand onder jou mense die toekoms probeer voorspel deur tekens te probeer verklaar nie. Niemand mag hekse besoek of aan hulle byeenkomste deelneem nie.

11. Jou mense mag nie ander mense probeer toor nie en hulle mag nie met dooies kontak maak om so inligting by hulle te kry nie.

12. Enige mens wat hom met hierdie dinge besig hou, is vir die Here walglik. Hy kan so ’n mens nie voor sy oë verdra nie. Dis omdat die nasies wat nou in daardie land bly, hierdie dinge gedoen het dat die Here jou God hulle uit die land gaan wegdryf. Hy gaan hulle land vir jou gee.

13. Jy moet sorg dat jy reg voor die Here leef.

14. Die mense wat jy daar gaan wegjaag, hou van mense wat hulle met toordery ophou en die toekoms voorspel. Luister mooi: die Here jou God verbied jou om jou met hierdie dinge besig te hou.”

15. “Die Here jou God sal iemand onder jou volk stuur wat vir julle sal sê wat die Here wil hê julle moet weet, net soos Hy my gestuur het. Julle moet luister as hierdie man met julle praat, want hy sê wat hy van my hoor.

Deuteronomium 18