Daniël 7:11-21 Die Boodskap (DB)

11. “Die klein horinkie was nog steeds besig om allerhande grootpraterige goed te sê. En toe ek weer kyk, sien ek hoe die vierde dier doodgemaak word en sy liggaam in die vuur verbrand word.

12. Ook die ander drie diere se krag is van hulle af weggevat, maar hulle lewe is vir nog ’n klein rukkie gespaar.

13. “My visioen het voortgegaan. Daar in die wolke het ek iemand sien aankom. Hy het soos ’n mens gelyk. Hy het na die Een toe gegaan wat vir altyd lewe. Hierdie mens is geroep om by sy troon te gaan staan.

14. Aan hierdie mens is al die mag en die eer en die koningskap gegee, sodat al die volke, nasies en tale van die wêreld hom sou dien. Daar sal nooit ’n einde aan sy heerskappy wees nie. Sy koninkryk sal nooit vernietig word nie.”

15. “Hierdie visioen het my verskriklik ontstel; dit het my baie bang gemaak.

16. Ek het toe na een van dié wat langs God se troon gestaan het, gegaan en vir hom gevra wat dit alles beteken. Hy het dit toe so vir my verduidelik:

17. die vier groot diere is die vier groot wêreldmagte wat op die aarde sal heers.

18. Maar op die ou end sal die mense wat aan die Allerhoogste behoort, as konings heers en hulle sal vir ewig regeer.

19. “Ek wou toe meer weet van die vierde dier wat so anders as die ander lyk. Daardie skrikwekkende dier het sy slagoffers met sy ystertande opgevreet en met bronskloue vermorsel, en wat oorgebly het, verder onder sy pote vertrap.

20. Ek het ook gevra oor die betekenis van die tien horings op sy kop, en ook oor die klein horinkie wat agterna uitgekom het en toe drie van die ander horings uitgeruk het. Dit is die een wat later groter geword het as die ander. Dit het oë gehad soos ’n mens en ’n mond wat verskriklik grootgepraat het.

21. Terwyl ek besig was om te kyk het hierdie horing begin oorlog maak teen die mense wat aan God behoort het. Hy was besig om hulle te wen,

Daniël 7