Daniël 2:9-21 Die Boodskap (DB)

9. As julle nie my droom onmiddellik uitlê nie, is dit verby met julle. Julle het saam besluit om aan te hou om vir my leuens te vertel in die hoop dat iets dalk kan verander. Ek wil nóú by julle weet wat ek gedroom het sodat ek kan sien dat julle ook die droom kan uitlê!”

10. Toe sê die sterrevoorspellers vir die koning: “Daar is nie ’n mens op hierdie aarde wat kan doen wat u van ons verwag nie. Geen koning, hoe groot of magtig hy ook al was, het nog ooit so iets van sy towenaars, toekomsvoorspellers of sterrevoorspellers verwag nie.

11. Dit is onmoontlik vir ’n mens om te doen wat u vra. Net die gode sou so iets kon doen, maar ongelukkig bly hulle nie hier op aarde tussen die mense nie.”

12. Die koning was buite homself van woede oor hierdie antwoord. Daarom het hy beveel dat al die koninklike raadgewers in Babel doodgemaak moes word.

13. Hierdie koninklike opdrag, dat al die koning se raadgewers doodgemaak moes word, het ook vir Daniël en sy vriende ingesluit. Hulle is gesoek.

14. Toe Arjok, die bevelvoerder van die koning se lyfwagte, kom om hulle dood te maak, het Daniël met hom gepraat. Hy het sy woorde versigtig gekies en sonder om aanstoot te gee

15. vir Arjok gevra waarom die koning so ’n wrede opdrag gegee het. Arjok het toe vir hom vertel wat presies gebeur het.

16. Daniël het toe dadelik na die koning toe gegaan en vir hom gevra om nie die opdrag te laat uitvoer nie, sodat hy die koning se droom vir hom kon uitlê.

17. Daniël is toe terug huis toe, waar hy vir sy vriende Gananja, Misael en Asarja vertel het wat gebeur het.

18. Hy het hulle gevra om tot die God van die hemel te bid om vir hulle goed te wees en om vir hulle te sê wat die geheim van die droom was sodat hulle nie saam met al die ander raadgewers van Babel doodgemaak sou word nie.

19. Daardie selfde nag nog is die geheim in ’n visioen aan Daniël bekendgemaak. Hieroor het Daniël die God van die hemel geprys:

20. “Prys God se Naam nou en vir altyd, Hy alleen het al die kennis en mag.

21. Hy bepaal die koers van alles en almal in die wêreld; Hy haal konings uit hulle magsposisies uit en stel ander in hulle plek aan. Hy gee kennis en insig.

Daniël 2