2 Samuel 7:9-21 Die Boodskap (DB)

9. Ek het jou gehelp oral waar jy gegaan het. Ek het al jou vyande voor jou weggevee en Ek het jou een van die beroemdste mense op aarde gemaak.

10. Ek het vir my volk, vir Israel, ’n plek gegee waar hulle altyd kan bly. Niemand pla hulle meer nie, en daar is nie meer slegte mense wat hulle laat swaarkry soos vroeër

11. in die tyd toe Ek regters oor my volk aangestel het nie. Jou vyande pla jou ook nie meer nie.“‘Ek, die Here, sê nou vir jou dat Ek vir jóú ’n huis gaan bou, ’n koningshuis.

12. Wanneer jy die dag doodgaan en begrawe word, sal Ek sorg dat jou eie seun koning word en Ek sal sorg dat hy lank koning bly.

13. Hý sal vir My ’n huis bou waarin Ek self sal wees. En Ek sal sorg dat iemand van sy nageslag altyd koning is.

14. Ek sal vir hom soos ’n pa wees en hy sal vir My soos ’n seun wees. As hy ’n fout maak, sal Ek hom straf soos ’n pa sy seun straf.

15. Maar Ek sal nie my rug vir hom draai soos Ek dit met Saul gedoen het en jou toe in sy plek gesit het nie.

16. Een van jou eie familie sal altyd daar wees en altyd regeer. Daar sal altyd een van jou eie mense op jou troon wees.’”

17. Natan het al hierdie woorde, alles wat die Here vir hom gesê het, presies net so vir Dawid gaan sê.

18. Koning Dawid het toe in die tent ingegaan en by die ark van die Here gaan sit. Hy het gebid: “Wie is ek, groot Here, en wie is my familie dat U my tot hier gebring het?

19. Asof U nie al genoeg gedoen het nie, groot Here, het U toe ook nog aan my familie wat lank ná my kom, beloftes gemaak. Is dít wat U vir gewone mense soos ons wil sê, groot Here?

20. Wat kan iemand soos ek, Dawid, daaroor sê? U ken my tog goed, groot Here.

21. U het hierdie groot ding gedoen omdat U dit wóú doen en omdat U gesê het U gaan dit doen. En nou het U dit vir mý ook vertel!

2 Samuel 7