2 Samuel 6:6-16 Die Boodskap (DB)

6. Toe hulle by die klipplaat kom waar Nakon sy koring dors, het Ussa die ark van God vasgehou en gekeer dat dit nie van die wa afval nie, want die osse het los geraak voor die wa.

7. Die Here het so kwaad geword vir Ussa oor hy so astrant was, dat Hy hom net daar doodgemaak het. Ussa het dood neergeslaan langs die ark van God.

8. Dawid was baie ongelukkig oor die Here vir Ussa so gebreek het. Hy het die plek toe Peres-Ussa, “Ussa se breek”, genoem. Dis vandag nog die plek se naam.

9. Dawid het ook bang geword vir die Here en gedink: “Hoe kan ek ooit die ark van die Here na my plek toe vat?”

10. Hy wou toe nie meer die ark van die Here in die Stad van Dawid hê nie. Dawid het die wa laat wegdraai na Obed-Edom se huis toe, ’n man wat van Gat af gekom het.

11. Die ark van die Here het vir drie maande in Obed-Edom se huis gestaan. Die Here was baie goed vir Obed-Edom en sy hele familie.

12. Die mense het vir koning Dawid gaan vertel dat die Here goed is vir Obed-Edom se familie en dat dit so goed gaan met alles wat hy het omdat die ark van God by hom is. Dawid het toe die ark van God by Obed-Edom se huis laat haal. Dit was ’n vrolike optog:

13. toe die mense wat die kis dra ses treë geloop het, het Dawid ’n bul en ’n vet kalf vir die Here geslag.

14. Daarna het hy gedans so al wat hy kon. Hy het net ’n priesterrokkie aangehad.

15. So het Dawid en al die leiers van Israel die ark van die Here Jerusalem toe gevat. Hulle was bly en het geskree en op ramshorings geblaas.

16. Toe die ark in die Stad van Dawid inkom, het Mikal, Saul se dogter, deur die venster gekyk en gesien hoe bokspring en dans die koning daar by die ark van die Here. Sy het al haar respek vir hom verloor.

2 Samuel 6