2 Samuel 6:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Dawid het op ’n keer al die beste manne in Israel bymekaar laat kom. Daar was 30 afdelings.

2. Hy het saam met al hierdie manne na Baäla toe gegaan. Baäla is in Juda. Hulle het die ark van God daar gaan haal. Dis daardie beroemde ark, die een wat die troon van die magtige Here is. Die Here sit mos op die gerubs wat op die ark se deksel is.

3. Hulle het die ark van God uit die huis van Abinadab op die bult gedra en dit op ’n nuwe wa gelaai. Ussa en Agjo, twee kleinseuns van Abinadab, het saam met die nuwe wa geloop.

4. Agjo het voor geloop. So het hulle die ark van God by Abinadab se huis gaan haal.

5. Dawid en al die leiers van Israel het gedans en vir die Here op liere en harpe gespeel wat van sipreshout gemaak is, en op tamboeryne en ratels en simbale.

6. Toe hulle by die klipplaat kom waar Nakon sy koring dors, het Ussa die ark van God vasgehou en gekeer dat dit nie van die wa afval nie, want die osse het los geraak voor die wa.

7. Die Here het so kwaad geword vir Ussa oor hy so astrant was, dat Hy hom net daar doodgemaak het. Ussa het dood neergeslaan langs die ark van God.

8. Dawid was baie ongelukkig oor die Here vir Ussa so gebreek het. Hy het die plek toe Peres-Ussa, “Ussa se breek”, genoem. Dis vandag nog die plek se naam.

9. Dawid het ook bang geword vir die Here en gedink: “Hoe kan ek ooit die ark van die Here na my plek toe vat?”

2 Samuel 6