2 Samuel 22:3-16 Die Boodskap (DB)

3. My God, by U is ’n mens altyd veilig.U keer my vyande; U maak my sterk sodat ek hulle kan wen.U is ’n veilige wegkruipplek; U help my teen al die geweld.

4. Die Here moet geprys word,want as ek sy hulp vra,help Hy my teen my vyande.

5. Soos ’n groot golf wou die dood oor my breek,soos ’n vol rivier wou hy my saamsleep.

6. Ek was klaar vas in die dood se toue,ek het al klaar in sy strik getrap.

7. Toe ek so diep in die moeilikheid was,het ek na die Here geroep;ek het geskree my God moet my help.In sy paleis het Hy gehoor hoe ek roep;Hy het gehoor hoe benoud ek is.

8. Daar was ’n groot aardbewing;dit het gevoel of die hemel in sy fondamente geskud word,want die Here was baie kwaad.

9. As Hy kwaad is, is dit soos ’n vuurspuwende bergwaar die rook uit trek en vuur en lawa uitstroom.

10. Hy het die hemel oopgeskuif en afgekom;Hy het op donker wolke gaan staan.

11. Dit het gelyk of Hy in die wolke op ’n dier met vlerke ry,of die stormwind sy vlerke is waarmee Hy vlieg.

12. Die Here het in ’n donderstorm nader gekom,in die donker reënwolke.

13. Daar waar Hy was, het die blitse geslaan.

14. Toe die weer dreun, kon jy weet: dis die Here wat daar praat,dis die hoë God se stem!

15. Met weerligstrale het die Here my vyande uitmekaargejaag;die blitse het hulle op loop gesit.

16. As die Here kwaad is en Hy praat, is dit soos ’n orkaan;as Hy so hard praat, gee die see sommer padsodat jy die aarde se fondamente kan sien.

2 Samuel 22