2 Samuel 2:14-27 Die Boodskap (DB)

14. Abner sê toe vir Joab: “Kom ons laat van die jongmanne die ding hier voor ons uitspook.”“Dis goed so,” sê Joab.

15. Hulle laat toe twaalf manne vorentoe kom wat vir die stam van Benjamin en Is-Boset moet veg, en twaalf wat vir Dawid moet veg.

16. Toe hulle mekaar pak, gryp elkeen die ander een aan die hare en hulle steek mekaar gelyk met die swaard in die sy sodat hulle almal saam dood neerslaan. (Dis hoekom hulle die plek daar by Gibeon Klipmesdeel noem.)

17. Daar het toe ’n woeste geveg uitgebreek. Abner en die manne van Israel het die slegste daarvan afgekom teen Dawid se manskappe.

18. Al drie Seruja se seuns, Joab, Abisai en Asael, was in die geveg. Asael was so rats soos ’n ribbok.

19. Toe Abner begin weghardloop, sit Asael hom agterna en bly op sy hakke, maak nie saak watter kant toe Abner draai nie.

20. Abner kyk toe om en skree vir hom: “Is jý die een wat agter my aan is, Asael?”Asael skree terug: “Ja, dis ek!”

21. Abner skree vir hom: “Hou op om my te jaag! Vang een van die jongmanne en vat sý wapens!”Maar Asael wou niks weet van wegdraai nie.

22. Abner skree toe weer vir hom: “Gee pad hier agter my! Ek gaan jou doodmaak! Hoe sal ek dan weer jou broer Joab in die oë kan kyk?”

23. Maar Asael wou nie hoor nie. Toe steek Abner hom so hard met die spies in sy maag dat die steel by sy rug uitkom. Asael het net daar dood neergeslaan. Almal wat verbygehardloop het, het gaan staan daar waar Asael dood gelê het.

24. Maar Joab en Abisai het op Abner se spoor gebly. Toe die son sak, kom hulle by Ammabult aan wat oos van Giag op pad na Gibeon se weivelde lê.

25. Die manne van Benjamin het by Abner saamgekom en in ’n digte bondel op een van die koppies gaan staan.

26. Toe skree Abner: “Joab! Moet ons dan vir altyd aanhou veg? Jy weet goed waar dit gaan eindig: almal gaan bitter kwaad en ongelukkig wees! Hoekom sê jy nie vir jou manne hulle moet ophou om hulle eie mense te jaag en dood te maak nie?”

27. Toe skree Joab terug: “So waar as God leef, as jy net vroeër gepraat het, het ons vanmôre al opgehou om mekaar aan te val!”

2 Samuel 2