26. “As dit ophou reën as gevolg van hulle sonde en hulle kom bid in die tempel, as hulle U vra om hulle te vergewe nadat U hulle verneder het en hulle hou op met hulle sonde,
27. luister dan tog uit die hemel. Vergewe u volk se sondes. Leer hulle wat reg is en gee weer reën oor die land wat U vir hulle gegee het.
28. “As daar hongersnood in die land kom; of siektes, plae, sprinkane of ruspes bedreig u mense; of as die vyand hulle stede aanval; watter gevaar daar ook al dreig,
29. en u volk bid hier oor hulle probleme tot U,
30. luister dan tog uit die hemel waar U woon. Vergewe hulle. Gee aan elkeen wat hulle verdien, want U ken mense se diepste motiewe.
31. Dan sal hulle leer wat reg is vir U en dit doen. So sal hulle dan lank lewe in die land wat U vir ons voorouers gegee het.
32. “As dit gebeur dat ’n vreemdeling, soos iemand uit ’n ver land, van U hoor en hier by die tempel tot U kom bid,
33. luister dan tog uit die hemel waar U woon. Gee vir die vreemdeling wat hy van U vra. Dan sal al die mense op aarde U leer ken en U dien soos Israel dit doen. Hulle sal dan weet dat dié tempel wat ek gebou het, ter ere van u Naam gebou is.
34. “As U volk op u bevel gaan oorlog maak en hulle bid tot U in die rigting van Jerusalem en die tempel wat ek vir U gebou het,
35. luister dan tog uit die hemel na hulle gebed. Laat gebeur wat reg is.
36. “As hulle teen U sonde doen (en is daar ’n mens wat nie sonde doen nie?), kan U dalk kwaad word en hulle vyand toelaat om hulle te oorwin en weg te voer na ’n vreemde land.