2 Kronieke 6:20-27 Die Boodskap (DB)

20. Pas tog die tempel wat U self as woonplek gekies het, dag en nag op. Dan sal U my gebede hoor wat ek na hierdie tempel toe rig.”

21. “Mag U altyd die nederige en ernstige gebede hoor wat ek en my volk na hierdie plek toe rig. Mag U luister van waar U in die hemel woon en mag U ons vergewe as ons teen U sonde doen.

22. “As iemand ’n ander te na kom en hy word deur ’n vloek verplig om hier by die altaar in die tempel ’n belofte voor U af te lê,

23. luister tog uit die hemel daarna. Laat reg geskied. Laat die skuldige sy straf kry en die onskuldige vry uitgaan, soos wat reg is.

24. “As ’n vyand u volk Israel verslaan omdat hulle sonde gedoen het, en as hulle hulle dan bekeer en dit erken en hier in die tempel tot U kom bid,

25. luister tog uit die hemel. Vergewe hulle sonde en gee weer vir hulle die land wat U aan hulle voorouers gegee het.

26. “As dit ophou reën as gevolg van hulle sonde en hulle kom bid in die tempel, as hulle U vra om hulle te vergewe nadat U hulle verneder het en hulle hou op met hulle sonde,

27. luister dan tog uit die hemel. Vergewe u volk se sondes. Leer hulle wat reg is en gee weer reën oor die land wat U vir hulle gegee het.

2 Kronieke 6