2 Kronieke 24:1-7 Die Boodskap (DB)

1. Joas was net sewe jaar oud toe hy koning geword het. Hy het 40 jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Sibja, ’n vrou uit Berseba.

2. Joas se optrede het die Here tevrede gestel so lank as wat Jojada gelewe het.

3. Jojada het vir Joas twee vroue uitgesoek en hulle het ’n gesin met seuns en dogters gehad.

4. ’n Ruk later het Joas besluit om die tempel van die Here op te knap.

5. Hy het die priesters en die Leviete bymekaargeroep en gesê: “Gaan na die stede en dorpe van Juda toe. Roep al die Israeliete op om hulle jaarlikse bydraes te gee sodat ons die tempel kan opknap. Maak gou! Ek beskou dit as ’n dringende saak.”Die Leviete het getalm en nie dadelik daaraan begin werk nie.

6. Joas het toe met Jojada, die hoëpriester, geraas: “Waarom het u nie gesorg dat die Leviete die tempelbelasting van die mense in Juda en Jerusalem gaan insamel nie? Moses het die belasting al in die woestyn ingestel om die tent waar die Here aanbid is te kon onderhou!”

7. Oor die jare het Atalia en haar mense die Here se tempel van sy spesiale voorwerpe beroof. Hulle het selfs die tempelbelasting gebruik om die Baäls te dien.

2 Kronieke 24