7. Julle Leviete moet ’n lyfwag rondom die koning vorm. Hou julle wapens gereed en maak enigiemand dood wat ongemagtig in die tempel inkom. Bly die hele tyd by die koning en pas hom op.”
8. Die Leviete en die ander Judeërs het Jojada se bevele presies uitgevoer. Elke leier het ’n dubbele diensgroep gehad, naamlik dié wat aan diens gekom het, maar ook dié wie se diensbeurt verby was, want Jojada het hulle nie laat huis toe gaan na hulle klaar gewerk het nie.
9. Jojada het toe vir die offisiere van die spiese en skilde gegee wat Dawid vroeër in die tempel laat stoor het.
10. Hy het die gewapende wagte rondom die koning opgestel. Hulle het ’n ry gevorm van die suidelike hoek van die tempel tot by die noordelike hoek en reg rondom die altaar.
11. Jojada en sy seuns het toe vir Joas, die koning se seun, uitgebring en hom koning gemaak. Hulle het ’n kroon op sy kop gesit, die koninklike volmag in sy hand gesit en hom gesalf deur olie op hom uit te giet. Daarna het almal geskree: “Lank lewe die koning!”
12. Atalia het die lawaai by die tempel gehoor van die mense wat die koning toejuig en uitgegaan om te kyk wat daar gebeur.
13. Sy sien toe dat die koning op sy koninklike verhoog by die ingang van die tempel staan. Die militêre offisiere en die trompetblasers het langs hom gestaan. Terwyl die mense uitbundig juig en trompette blaas, het die sangers musiek gemaak en lofliedere gesing. Atalia het geweet wat dit beteken. Sy het ontsteld haar klere geskeur en geskree: “Verraad! Verraad!”
14. Jojada het vir die offisiere gesê: “Vang haar en vat haar weg. Enigiemand wat aan haar kant is, moet julle doodmaak. Onthou net, julle mag haar nie in die tempel van die Here doodmaak nie!”
15. Hulle het haar toe gegryp en weggevat. Toe hulle by die Perdepoort van die paleis kom, het hulle haar daar doodgemaak.