2 Konings 8:21-29 Die Boodskap (DB)

21. Joram wou die orde herstel en het die Edomiete met al sy strydwaens gaan aanval. By die dorp Saïr het die Edomiete hulle omsingel. Hy en die strydwaens kon egter in die nag uitbreek en wegkom, maar sy voetsoldate het gevlug en huis toe gegaan.

22. Edom is tot vandag toe onafhanklik van Juda. Dit was ook in dié tyd dat die dorp Libna teen Juda in opstand gekom het.

23. Die res van Joram se geskiedenis en wat hy alles gedoen het, word vertel in Die lewe en werk van al Juda se konings.

24. Na sy dood is Joram by sy voorouers in die Stad van Dawid begrawe. Hy is deur sy seun Ahasia opgevolg.

25. Ahasia, die seun van koning Joram van Juda, het koning van Juda geword in die twaalfde jaar wat koning Joram van Israel, ’n seun van Agab, regeer het.

26. Hy was 22 toe hy koning geword het en hy het ’n jaar lank in Jerusalem regeer. Sy ma was Atalia, ’n vrou uit die nageslag van koning Omri van Israel.

27. Hy het die slegte voorbeeld van die konings van Israel gevolg en dinge gedoen waarmee die Here nie tevrede was nie. Die rede hiervoor was dat hy in die familie van Agab ingetrou het.

28. Ahasia het koning Joram van Israel gaan help in sy oorlog teen koning Gasael van Aram. Die geveg het naby die dorp Ramot in Gilead plaasgevind, waar Joram gewond is.

29. Hy het na Jisreël toe teruggegaan om te herstel. Terwyl hy in Jisreël aangesterk het, het Ahasia van Juda hom kom besoek.

2 Konings 8