17. Elisa bid toe: “Here, maak asseblief sy oë oop sodat hy ook kan sien wat ek sien.” Skielik het die assistent gesien dat die heuwels rondom Elisa vol perde en strydwaens van vuur was.
18. Toe die Aramese soldate vir Elisa bestorm, het hy gebid: “Here, maak hulle asseblief blind!” En die Here het dit gedoen.
19. Elisa sê toe vir die klomp soldate: “Julle is op die verkeerde pad. Hierdie is nie die stad wat julle soek nie. Volg my, dan neem ek julle na die man toe wat julle soek.” Elisa het hulle toe reguit na Samaria toe gelei.
20. Daar aangekom, het Elisa weer gebid: “Here, laat hulle weer sien, asseblief.” Toe hulle hulle oë oopmaak, was hulle in die middel van die stad Samaria!
21. Die koning van Israel was stomverbaas en het vir Elisa gevra: “My vader, moet ek hulle almal doodmaak?”
22. “Natuurlik nie!” het Elisa geantwoord. “Jy sal tog nie krygsgevangenes wat jy gevang het, sommer doodmaak nie. Nee, gee vir hulle iets om te eet en te drink en stuur hulle terug na hulle koning toe.”
23. Die koning het toe vir hulle ’n groot ete voorberei. Toe die Aramese soldate klaar geëet het, het hy hulle na hulle koning toe laat teruggaan. Daarna het die Aramese bendes opgehou om rooftogte op Israelitiese grondgebied uit te voer.
24. ’n Ruk later het Ben-Hadad, die koning van Aram, sy hele leër opgeroep. Hulle het na Samaria toe opgetrek en die hele stad lamgelê.
25. ’n Verskriklike hongersnood het geleidelik as gevolg van die beleg ontstaan. Dit was só erg dat ’n donkiekop later byna ’n kilogram silwer en ’n skeppie duiwemis meer as 50 gram silwer gekos het.
26. Eendag het die koning van Israel op die stadsmuur gaan stap om te sien wat in die stad aangaan. ’n Vrou het hom gesien en uitgeroep: “U Majesteit, help my, asseblief!”
27. “As die Here jou nie help nie, hoe kan ek help? Ek het nie meel of wyn nie, daar is niks nie!” het hy geantwoord.
28. Maar toe vra hy haar: “Waarmee kan ek help?”“In my saak teen dié vrou, o koning,” het sy geantwoord. “Sy het gesê: ‘Kom ons eet jou seun vandag, dan kan ons môre myne gaarmaak.’
29. Ons het my seun toe eerste geëet, maar toe ek die volgende dag vir haar sê: ‘Maak nou jou seun dood, dat ons kan eet,’ het sy haar kind weggesteek.”
30. Die koning was verskriklik ontsteld toe hy haar storie hoor. Hy het sy klere stukkend geskeur as teken van sy ontsteltenis. Toe hy verder loop, kon die stad se mense sien dat hy ’n growwe roukleed onder sy klere aangehad het.
31. “God kan my maar doodmaak as ek nie vandag nog vir Elisa doodmaak nie,” het hy ontsteld verklaar.