16. Hy het vir haar gesê: “Teen dié tyd volgende jaar sal jy ’n seuntjie in jou arms vashou.”Sy het skerp geantwoord: “Ag nee, Meneer! U is tog ’n man van God. Moenie ’n leuen vertel en my vals hoop gee nie!”
17. Maar sy het begin verwag en omtrent ’n jaar later is haar seuntjie gebore, net soos Elisa voorspel het.
18. Op ’n dag het die seuntjie, wat toe al ’n bietjie groter was, na sy pa op die lande gegaan. Hulle was besig om te oes.
19. Skielik het die kind uitgeroep: “Pa, my kop is seer! My kop!” Sy pa het dadelik ’n werker gestuur en gesê: “Vat hom gou na sy ma toe.”
20. Toe hy met die kind by die huis kom, het sy ma hom op haar skoot vasgehou, maar hy is teen die middag dood.
21. Sy het die liggaampie opgedra na Elisa se kamer toe en hom op die bed neergelê. Daarna het sy uitgegaan en die deur gesluit.
22. Sy het toe vir haar man laat weet: “Stuur vir my een van die werkers en ’n donkie. Ek wil gou die man van God gaan besoek. Ek sal binnekort terug wees.”
23. “Waarom vandag?” het haar man gevra. “Dit is tog nie vandag nuwemaan of sabbat nie.”“Toemaar, wees gerus,” het sy geantwoord
24. en onmiddellik die donkie opgesaal. Sy het vir die werker gesê: “Jaag die donkie aan en moet nie stadiger ry nie, behalwe as ek so sê.”
25. Sy het na Elisa toe gery waar hy op die Karmelberg gebly het. Elisa het haar gesien toe sy nog ’n ent weg was en vir Gehasi gesê: “Kyk daar. Dit is die vrou van Sunem.
26. Draf haar tegemoet en vra hoe dit met haar en haar man en kind by die huis gaan.”Sy het net vir Gehasi gesê: “Dit gaan goed,”