2 Konings 13:6-18 Die Boodskap (DB)

6. Hulle het egter aangehou met die sonde wat by Jerobeam begin het. Hulle het selfs die Asjerabeeld in Samaria laat bly staan.

7. Uiteindelik het Israel se leër gekrimp tot ’n skamele 50 ruiters, tien strydwaens en 10 000 voetsoldate. Die Arameërs het die ander doodgemaak en die leër van Israel soos stof vertrap.

8. Die res van Joahas se geskiedenis en wat hy alles gedoen het, word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings.

9. Na sy dood is hy in Samaria begrawe en sy seun Joas het hom opgevolg.

10. In die 37ste jaar van koning Joas van Juda se regering het Joas, die seun van Joahas, koning in Israel geword. Hy het sestien jaar lank in Samaria regeer.

11. Die Here was nie tevrede met Joas se optrede nie. Hy het aangehou met al die sondes wat Jerobeam Israel laat doen het.

12. Die res van Joas se geskiedenis en wat hy alles gedoen het, ook sy dapperheid in sy gevegte teen Amasia, die koning van Juda, word vertel in Die lewe en werk van al Israel se konings.

13. Na sy dood is hy by die konings van Israel in Samaria begrawe en Jerobeam II het hom opgevolg.

14. Toe Elisa dodelik siek aan sy laaste siekte gelê het, het koning Joas van Israel na hom toe gekom. Joas het gehuil en vir Elisa gesê: “My vader! My vader! U is vir Israel soos ’n strydwa met sy ruiters!”

15. Elisa het vir hom gesê: “Vat jou pyl en boog.” Die koning het dit gedoen

16. en toe sê Elisa: “Sit nou jou hande op die boog.” Hy het dit ook gedoen. Toe sit Elisa sy hande bo-oor die koning se hande.

17. Daarop sê Elisa: “Maak die venster na die oostekant toe oop!” Die koning het dit gedoen. Toe sê Elisa: “Skiet!” Toe hy geskiet het, sê Elisa: “Dit is die Here se pyl van oorwinning oor Aram, want jy sal die Arameërs volkome by Afek verslaan.

18. Vat nou die ander pyle en slaan hulle teen die grond.”Die koning het die pyle gevat en drie keer teen die grond geslaan.

2 Konings 13