1 Samuel 20:1-16 Die Boodskap (DB)

1. Dawid het gemaak dat hy wegkom van die profete se huis in Rama. Hy het by Jonatan gekom en vir hom gesê: “Wat het ek verkeerd gedoen? Watter sonde het ek gedoen? Wat het ek aan jou pa gedoen dat hy my wil doodmaak?”

2. “Nooit! Jy gaan nie doodgemaak word nie,” sê Jonatan vir hom. “Ek verseker jou, my pa doen niks voordat hy eers met my daaroor gepraat het nie, of dit nou ’n belangrike of ’n onbelangrike ding is. Waarom sou hy dit vir my wegsteek as hy jou wil doodmaak? Daar bestaan nie so iets nie.”

3. Maar Dawid sê: “So waar as die Here leef, Jonatan, jou pa weet baie goed dat jy erg is oor my, en ek is seker hy het vir homself gesê: ‘Jonatan moet nie hiervan weet nie, want dit sal hom ontstel.’ Ek verseker jou, so waar as die Here leef en so waar as jy leef: daar is maar een tree tussen my en die dood.”

4. Jonatan sê toe vir Dawid: “Sê dan maar wat wil jy hê ek vir jou moet doen.”

5. Daarop sê Dawid: “Kyk, dis môre nuwemaan, dan móét ek saam met die koning eet. Gee vir my toestemming dat ek in die veld kan gaan wegkruip tot oormôreaand.

6. As jou pa my regtig mis by die ete, moet jy vir hom sê: ‘Dawid het by my verlof gevra om dringend na sy tuisdorp, Betlehem, toe te gaan, want die hele familie kom daar bymekaar vir die jaarlikse offer.’

7. As jou pa sê: ‘Dis goed so,’ is jou getroue vriend veilig. Maar as jou pa baie kwaad word, moet jy weet hy het klaar besluit om van my ontslae te raak.

8. Jy het my met ’n belofte voor die Here aan jou gebind as jou getroue vriend. As ek enigiets verkeerds gedoen het, doen my dan die guns en maak jý my dood. Maar moet my asseblief nie aan jou pa oorgee nie.”

9. “Ek sal dit nooit doen nie,” sê Jonatan. “As ek doodseker is my pa wil van jou ontslae raak, sal ek jou vir seker laat weet.”

10. “Ja, maar wie sal vir my kom sê of jou pa ’n dwars antwoord gegee het of nie?” vra Dawid.

11. Jonatan sê vir Dawid: “Kom ons stap ’n bietjie veld toe.”Hulle twee het die veld in gestap,

12. en daar het Jonatan vir Dawid gesê: “Ek belowe jou voor die Here, die God van Israel, dat ek oormôre teen hierdie tyd sal uitvind wat my pa se plan is. As dit goed lyk, sal ek vir seker iemand stuur om dit vir jou te kom sê.

13. Maar as my pa vas besluit het om van jou ontslae te raak, sal ek jou laat weet en seker maak dat jy wegkom na ’n veilige plek. As ek dit nie doen nie, kan die Here my maar baie swaar straf. “Die Here sal jou help soos Hy vroeër my pa gehelp het.

14. As ek nog leef, moet jy asseblief vir my goed wees soos die Here vir jou goed is, sodat ek nie doodgemaak word nie.

15. En wanneer die Here elke vyand van jou van die aarde af uitroei, moet jy asseblief ook vir my familie goed wees solank jy leef.”

16. So het Jonatan met Dawid se familie ’n ooreenkoms gemaak met die woorde: “Die Here sal sorg dat dit uitgevoer word.”

1 Samuel 20