27. Die manne het vir Dawid dieselfde antwoord gegee: “Dit is wat gedoen sal word met die man wat die Filistyn doodmaak.”
28. Dawid se oudste broer, Eliab, het gehoor dat Dawid met die manne praat. Hy het hom bloedig vererg vir Dawid: “Wat het jy hier kom soek? En by wie het jy daardie klompie skape in die oop veld gelos? Ek weet hoe voor op die wa jy is en watter plannetjies jy altyd maak: jy het maar net hierheen gekom om die geveg te sien.”
29. “Wat het ek nou verkeerd gedoen?” vra Dawid. “Hierdie is tog ’n ernstige saak.”
30. Hy draai toe weg van Eliab af na van die ander manne en vra vir hulle ook dieselfde vraag. Hulle gee hom toe dieselfde antwoord.
31. Die manskappe het gehoor wat Dawid sê en dit vir Saul gaan vertel. Saul laat hom toe haal.
32. Dawid het vir Saul gesê: “Ons moenie moed verloor oor hierdie Filistyn nie. Hierdie dienaar van u sal teen hom gaan veg.”
33. Maar Saul sê vir Dawid: “Nee, man, jy kan nie teen hierdie Filistyn gaan veg nie! Jy is nog ’n kind en hy is van kleintyd af al ’n beroepsoldaat.”
34. “U Majesteit,” antwoord Dawid vir Saul, “ek pas lank vir my pa skape op. As ’n leeu of ’n beer een van die lammers in die trop vang,
35. gaan ek agter hom aan en slaan hom plat en kry die lam terug. As hy my aanval, gryp ek hom aan sy keel en slaan hom dood.
36. Ek het leeus en bere kafgeloop en ek sal dieselfde doen met hierdie Filistyn, want hy het met die manskappe van die lewende God gespot.
37. Die Here wat my teen die kloue van leeus en bere beskerm het, sal my ook teen hierdie Filistyn beskerm.”Saul het vir hom gesê: “Gaan dan maar; en mag die Here jou help.”
38. Saul trek toe vir Dawid sy eie oorlogsklere aan: hy sit ’n brons helm op sy kop en trek vir hom ’n veghemp aan.