8. Hy het die stad van die Millo af reg rondom opgebou, terwyl Joab die res van Jerusalem herbou het.
9. Dawid het al hoe sterker geword, want die Here, die Groot Bevelvoerder, was by hom.
10. Hier is iets meer oor die leiers van Dawid se dapper helde. Hulle het saam met die hele Israel besluit om Dawid Israel se koning te maak, volgens die Here se belofte.
11. Hier is ’n lys van Dawid se magtige manne.Jasobam, Gakmoni se seun, was die leier van die Drietal. Hy het eenkeer 300 man in een veldslag met sy spies doodgemaak.
12. Eleasar, Dodo se seun, wat uit Agoag kom, is volgende. Hy was ook een van die Drietal.
13. Hy was saam met Dawid by Pas-Dammim om teen die Filistyne te veg. Die geveg het in ’n garsland plaasgevind en die Israeliete het gevlug.
14. Eleasar-hulle het egter in die garsland stelling ingeneem en die Filistyne teruggedryf. Die Here het hulle gered en vir hulle ’n groot oorwinning gegee.
15. Op ’n keer was Dawid by die rots naby die Adullamgrot, terwyl die Filistyne in die Refaimvallei kamp opgeslaan het. Drie lede van die Dertigtal het na Dawid toe gegaan.
16. Dawid was toe in sy vesting en die Filistyne het Betlehem op daardie stadium beset.
17. Dawid het verlangend gesê: “Ek wens iemand wou nou vir my ’n bietjie water uit die put by Betlehem se poort gaan haal!”
18. Die drie manne het dadelik deur die Filistyne se linies gebreek. Hulle het water uit die put by Betlehem se poort gaan skep en dit vir Dawid teruggebring. Hy was egter nie bereid om dit te drink nie en het dit as ’n offer vir die Here op die grond uitgegooi.
19. Hy het gesê: “Mag God my daarvan bewaar dat ek so iets sou doen! Die water is so goed as dié manne se bloed, hoe kan ek dit drink? Hulle het hulle lewe in gevaar gestel om die water vir my te bring.” Daarom het hy dit nie gedrink nie.Dit is die soort ding wat dié drie helde gedoen het.
20. Abisai, Joab se broer, was die leier van die Dertigtal. Hy het met sy spies 300 man doodgemaak en vir homself naam gemaak onder die soldate.
21. Hy was die beroemdste van die Dertigtal en was hulle aanvoerder, al was hy nie een van die Drietal nie.
22. Benaja, Jojada se seun, het van Kabseël af gekom. Hy was dapper en ’n man van die daad. Hy het eenkeer twee van Moab se dapperste vegters doodgemaak. ’n Ander keer het hy op ’n dag wat dit gesneeu het, in ’n put afgeklim en die leeu doodgemaak wat daarin was.
23. Op ’n ander keer het hy ’n Egiptenaar doodgemaak wat twee en ’n kwart meter lank was. Die Egiptenaar se spies was so dik soos die dwarsbalk van ’n weefstoel. Benaja het net ’n stok by hom gehad, maar hy het die Egiptenaar se spies uit sy hand geruk en hom met sy eie spies doodgemaak.
24. Dít is die tipe dinge wat Benaja gedoen het en waarmee hy so beroemd soos die Drietal geword het.
25. Hy is hoër geag as die res van die Dertigtal, maar was nie een van die Drietal nie. Dawid het hom in bevel van sy lyfwag geplaas.