12. God het nie sy wette vir al die mense gegee nie. Daar is mense wat nie God se wette het nie. As húlle sonde doen, dan sal hulle verlore gaan. Maar party mense het God se wette. As húlle sonde doen, dan wys die wette dat hulle sonde gedoen het en dat God hulle sal straf.
13. Want God spreek nie mense vry omdat hulle die wette ken nie. God spreek hulle vry as hulle dóén wat die wette sê.
14. Die heidene het nie God se wette nie, maar partymaal besluit hulle self wat reg is en dan doen hulle dinge wat die wette sê. Hulle het nie God se wette nie, maar hulle lewe dan soos mense wat God se wette het.
15. Hulle doen dinge wat wys dat hulle God se wette in hulle harte het. Hulle weet self wat is reg en wat is verkeerd, en hulle kan vir hulleself sê dat hulle reg doen of dat hulle verkeerd doen.
16. Dit sal gebeur op daardie dag wanneer God vir Christus Jesus sê dat Hy moet kyk na al die slegte dinge wat mense gedink het, en dat Hy hulle moet oordeel. Dit is wat die goeie boodskap sê, die boodskap wat ek preek.
17. Jy sê jy is ’n Jood, jy sê God se wette is vir jou baie belangrik en jy spog en sê God is jou God.
18. Jy weet wat God wil hê jy moet doen, jy weet wat is die regte dinge om te doen, want mense leer vir jou wat die wette sê.
19. Jy dink jy kan ander mense help soos ’n mens iemand help wat blind is of soos ’n mens lig maak vir mense wat in die donker is.
20. Jy dink jy is soos iemand wat vir mense leer, mense wat niks verstaan nie. Jy dink jy is soos ’n onderwyser wat vir kindertjies leer. Jy dink dat alles wat ’n mens moet weet in God se wette is en dat al die waarheid in die wette is, en jy hét daardie wette.
21. Maar jy dink verkeerd. Jy leer vir ander mense, maar jy leer nie vir jouself nie. Jy sê vir ander mense hulle mag nie steel nie, maar jy self steel.
22. Jy sê vir ander mense hulle mag nie egbreuk pleeg nie, maar jy self pleeg egbreuk. Jy sê jy haat afgode, maar jy steel goed uit die afgode se tempels.
23. Jy spog omdat jy God se wette het, maar jy doen nie wat die wette sê nie en so wys jy dat jy nie vir God respekteer nie.