Rigters 9:50-55 Bybel vir Almal (ABA)

50. Abimelek het na die stad Tebes gegaan. Hy het die stad van al die kante aangeval en hy het dit oorwin.

51. Binne-in die stad was ’n sterk toring, en al die mans en vroue het daarnatoe gevlug, ook die belangrike mense van die stad. Hulle het die deur gesluit en op die toring se dak geklim.

52. Abimelek het by die toring gekom en hy wou oorlog maak teen die mense in die toring. Toe hy nader kom na die deur om dit aan die brand te steek,

53. het ’n vrou ’n maalklip afgegooi op Abimelek se kop, en die klip het sy kopbeen laat bars.

54. Hy roep toe dadelik die seun wat sy wapens dra, en sê vir hom: “Vat jou swaard en maak my dood. Ek wil nie hê dat die mense sal sê ’n vrou het my doodgemaak nie.”Die seun het Abimelek doodgesteek,

55. en toe die Israeliete sien Abimelek is dood, het elkeen teruggegaan na sy huis.

Rigters 9