Rigters 3:18-31 Bybel vir Almal (ABA)

18. Toe Ehud die belasting klaar vir die koning gegee het, het hy die mense teruggestuur wat die belasting-geld gedra het.

19. Hyself het omgedraai by die beelde naby Gilgal. Hy het teruggegaan na die koning toe en vir hom gesê: “Koning, ek moet vir jou iets sê, maar dit is ’n geheim.”Die koning het toe gesê almal wat by hom was, moet uitgaan. Hulle het dit gedoen.

20. Die koning was in sy koel bo-kamer waar ander mense gewoonlik nie gekom het nie. Ehud het vir die koning gesê: “Ek bring vir jou ’n boodskap van God.”Toe die koning opstaan van sy stoel,

21. het Ehud met sy linker-hand die swaard van sy regter-heup gevat. Hy het dit so diep in die koning se maag gesteek

22-23. dat die vet die swaard toegemaak het. Ehud het nie die swaard weer uitgetrek nie. Hy het die deur van die bo-kamer gesluit en deur ’n venster geklim, en hy het by die voordeur uitgegaan.

24. Nadat Ehud weggegaan het, het die amptenare van die koning gekom en gesien die deur van die bo-kamer is toe. Hulle het gedink die koning sit op die toilet in die koel kamer.

25. Hulle het baie lank gewag en het nie geweet wat om te doen nie. Niemand het die deur oopgemaak nie. Hulle het ’n sleutel gebring en die deur oopgemaak. En toe lê hulle koning daar dood op die vloer.

26. Omdat die amptenare so lank gewag het, kon Ehud weghardloop. Hy het verby die beelde gegaan en hy het na die plek Seïra gegaan.

27. Toe hy daar kom, het hy die ramshoring geblaas op die Efraim-berge. Die Israeliete het uit die berge gekom en hulle het saam met hom gegaan. Hy het voor gehardloop

28. en hy het vir hulle gesê: “Hardloop saam met my, want die Here sal julle vandag laat wen teen julle vyande, die Moabiete.”Die Israeliete het saam met Ehud gegaan en hulle het manne laat staan by die driwwe in die Jordaan-rivier tussen die land Israel en die land Moab. Die manne moes keer dat niemand deurgaan nie.

29. Die Israeliete het die Moabiete oorwin en hulle het omtrent 10 000 manne doodgemaak. Die manne was almal vet, en elke man was ’n goeie soldaat.

30. Die Israeliete was van daardie dag af ’n sterker volk as die Moabiete. Daar was 80 jaar lank vrede in die land.

31. Ná Ehud het Samgar die leier geword. Hy was die seun van Anat, en hy het 600 Filistyne doodgemaak met ’n skerp stok. So het hy ook die Israeliete gered.

Rigters 3