10. Die leiers van die Gilead-mense het vir Jefta gesê: “Die Here hoor wat ons sê, Hy is die getuie. Ons sal doen wat jy sê.”
11. Jefta het saam met die leiers van die Gilead-mense gegaan, en die manne het hom hulle hoof en leier gemaak. Jefta het in die tempel in Mispa belowe hy sal hulle leier wees.
12. Daarna het hy boodskappers gestuur na die koning van die Ammoniete om vir hom te vra: “Wat is die probleem tussen ons? Hoekom het jy gekom om oorlog te maak in my land?”
13. Die koning van die Ammoniete het vir Jefta se boodskappers gesê: “Sê vir Jefta: Ek het gekom om oorlog te maak omdat die Israeliete my land gevat het toe hulle uit Egipte gekom het. Dit is die grond tussen die Arnon-rivier en die Jabbok-rivier tot teen die Jordaan-rivier. Gee die grond terug, dan sal daar vrede wees tussen ons.”
14. Jefta het weer boodskappers gestuur na die koning van die Ammoniete
15. en vir hom gesê: “Die Israeliete het nie die land van die Moabiete en die land van die Ammoniete gevat nie.
16. Wat gebeur het, is dit: Toe die Israeliete uit Egipte gekom het, het hulle deur die woestyn gegaan tot by die Riet-see en toe het hulle by die stad Kades gekom.
17. Die Israeliete het boodskappers gestuur na die koning van Edom en hulle het vir hom gevra: ‘Laat ons asseblief deur jou land gaan.’ Maar die koning van Edom wou nie hê hulle moet deur sy land gaan nie. Hulle het ook vir die koning van Moab ’n boodskap gestuur, maar hy wou ook nie hê hulle moet deur sy land gaan nie. Die Israeliete het toe in Kades gebly,
18. en daarna het hulle om die land Edom en om die land Moab gegaan en hulle het hulle tente opgeslaan oos van die land Moab, anderkant die Arnon-rivier. Hulle het nie oor die grens van die land Moab gegaan nie, want die Arnon-rivier was die grens.
19. Die Israeliete het toe boodskappers gestuur na Sihon, die koning van die Amoriete in die stad Gesbon, en hulle het vir hom gevra: ‘Laat ons asseblief deur jou land gaan na ons eie plek toe.’
20. Maar Sihon het nie die Israeliete vertrou nie. Hy wou hulle nie deur sy land laat gaan nie. Hy het al sy manne bymekaargemaak en hulle het hulle tente opgeslaan by die stad Jahas. Toe het hulle begin oorlog maak teen die Israeliete.
21. Die Here, die God van Israel, het die Israeliete laat wen teen Sihon en al sy manne. Die Israeliete het hulle oorwin en hulle het die hele land gevat van die Amoriete wat toe daar gewoon het.