Openbaring 13:15-18 Bybel vir Almal (ABA)

15. God het gesê die dier uit die aarde mag die beeld van die dier uit die see laat lewe. Die beeld kon toe praat, en as mense nie die beeld wou aanbid nie, dan het die dier hulle laat doodmaak.

16. Die dier wat uit die aarde gekom het, het vir al die mense gesê hulle moet ’n merk op hulle regter-hand of ’n merk op hulle voorkop laat maak. Almal moes die merk kry, kinders en grootmense, ryk mense en arm mense, slawe en mense wat nie slawe is nie.

17. Die dier het die merk vir mense gegee sodat niemand iets kon koop of verkoop as hy nie die merk het nie. Die merk is die naam van die dier uit die see of die nommer wat ’n mens van sy naam kan maak.

18. ’n Mens moet baie goed dink hieroor. As iemand dit goed verstaan, dan moet hy dink wat beteken die nommer van die dier uit die see, want dit is ’n mens se nommer. Die nommer is 666.

Openbaring 13