5. Julle moet van die buitekant van die stadsmuur 2 000 el na elke kant meet, en die stad moet in die middel wees. Dit is die weiveld by die stede wat die Leviete moet kry.
6. Ses van die stede wat julle vir die Leviete gee, moet asielstede wees. Iemand kan daarnatoe vlug wanneer hy iemand anders doodgemaak het. Saam met hierdie stede moet julle nog 42 ander stede vir hulle gee.
7. Julle moet vir die Leviete altesaam 48 stede gee saam met hulle weivelde.
8. ’n Groot stam moet meer stede vir die Leviete gee en ’n kleiner stam moet minder stede vir hulle gee.”
9. Die Here het vir Moses gesê:
10. “Jy moet met die Israeliete praat en vir hulle sê: Wanneer julle oor die Jordaan-rivier gaan na die land Kanaän,
11. dan moet julle stede kies wat vir julle asielstede kan wees. Iemand kan daarnatoe vlug wanneer hy ’n ander mens per ongeluk doodgemaak het.
12. Die stede moet asielstede wees vir julle. Die naaste familielid van die persoon wat gesterf het, mag nie in die asielstad die moordenaar doodmaak wat een van sy familie doodgemaak het nie. Die volksvergadering moet eers oor hom oordeel.
13. Julle moet ses stede gee wat asielstede kan wees vir julle.
14. Julle moet drie stede oorkant die Jordaan-rivier en drie stede in die land Kanaän gee om asielstede te wees.