Numeri 32:32-42 Bybel vir Almal (ABA)

32. Ons sal ons wapens neem en oorgaan na die land Kanaän saam met julle, die Here sal dit sien. Maar die grond wat ons sal kry, moet aan hierdie kant van die Jordaan-rivier wees.”

33. Moses het toe die grond vir hulle gegee. Hy het vir die Gad-stam en die Ruben-stam en die helfte van die stam van Manasse seun van Josef die lande gegee van Sihon koning van die Amoriete en die lande van Og koning van Basan. Dit was die lande met die stede en die grond rondom die stede.

34. Die Gad-stam het die stede Dibon, Atarot en Aroër gebou,

35. en ook Atrot-Sofan, Jaser, Jogboha,

36. Bet-Nimra en Bet-Garan. Die stede het sterk mure gehad, en daar was krale vir die skape en bokke.

37. Die Ruben-stam het die stede Gesbon, Elale en Kirjatajim gebou

38. en ook Nebo, Baäl-Meon en Sibma. Hulle het nuwe name gegee vir die stede wat hulle gebou het.

39. Die familie van Makir seun van Manasse het na Gilead gegaan en hulle het die land oorwin. Hulle het die Amoriete weggejaag wat daar gewoon het.

40. Moses het die land Gilead vir Makir seun van Manasse gegee, en Makir het daar gaan woon.

41. Jaïr seun van Manasse het ’n klomp dorpies oorwin en hy het hulle die Jaïr-dorpe genoem.

42. Nobag het die stad Kenat oorwin en ook die dorpies daar naby. Hy het die stad Nobag genoem, dit was dieselfde soos sy eie naam.

Numeri 32