1. Hier is ’n lys van die nageslag van Aäron en Moses op die dag toe die Here op Sinai-berg met Moses gepraat het.
2. Hier is die name van die seuns van Aäron: Die oudste seun was Nadab, en die ander seuns was Abihu, Eleasar en Itamar.
3. Dit is die name van Aäron se seuns, die gesalfde priesters. Moses het hulle gewy om priesters te wees.
4. Nadab en Abihu het in die Sinai-woestyn gesterf toe hulle verkeerde vuur op die altaar neergesit het. Die Here het hulle laat sterf. Hulle het nie seuns gehad nie, en toe was net Eleasar en Itamar priesters saam met hulle pa Aäron.
5. Die Here het vir Moses gesê:
6. “Jy moet die Levi-stam laat nader kom sodat hulle vir die priester Aäron kan werk.
7. Hulle moet vir die hele volk werk by die tent waar Ek aan die Israeliete verskyn, hulle moet alles wat nodig is, by die tempel-tent doen.
8. Hulle moet sorg vir alles wat by die tent moet wees, hulle moet die werk doen vir die Israeliete, die werk wat nodig is by die tempel-tent.
9. Jy moet die Leviete vir Aäron en sy seuns gee. Die Israeliete gee die Leviete sodat hulle vir Aäron en sy seuns kan werk.
10. Net Aäron en sy seuns mag priesters wees. Wanneer iemand anders die priester-werk doen, dan moet julle hom doodmaak.”
11. Die Here het vir Moses gesê:
12. “Ek het self die Leviete weggeneem van die Israeliete. Ek het nie die oudste seuns van die Israeliete geneem nie, Ek het die Leviete geneem in hulle plek. Die Leviete behoort aan My.
13. Al die oudste seuns en al die eerste kleintjies van die mak diere is Myne. Dit is so van daardie dag af toe Ek die oudste seuns in Egipte laat sterf het. Ek het toe elke seun en elke dier wat eerste gebore is, aan My gewy, hulle is Myne, Ek is die Here.”