Matteus 13:30-34 Bybel vir Almal (ABA)

30. Die onkruid en die koring moet saam groei totdat die koring ryp is. Dan sal ons dit afsny. Dan sal ek vir die werkers sê: Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit vas en verbrand dit. Maak dan die koring bymekaar en bring dit na my stoorkamer.’ ”

31. Jesus het vir hulle nog ’n gelykenis vertel. Hy het gesê: “Wanneer God Koning is, God wat in die hemel is, dan is dit soos wanneer ’n man ’n mosterd-saad in sy grond geplant het.

32. Dit is die kleinste saadjie van al die soorte saad, maar wanneer die plantjie klaar gegroei het, dan is dit groter as die ander plante in die tuin en dit word ’n boom. Dan kom die voëls en hulle maak neste in die boom se takke.”

33. Jesus het vir hulle nog ’n gelykenis vertel. Hy het gesê: “Wanneer God Koning is, God wat in die hemel is, dan is dit soos wanneer ’n vrou ’n klein stukkie suurdeeg neem en dit meng met drie sea meel. Die meel word dan deeg, en die suurdeeg laat al die deeg rys en groter word.”

34. Jesus het al hierdie dinge vir baie mense gesê. Hy het gelykenisse vertel wanneer Hy met die mense gepraat het. Hy het altyd gelykenisse gebruik wanneer Hy met die mense gepraat het.

Matteus 13