26. Die gees het hard geskree en hy het die seun nog meer laat ruk en skop. Toe het hy uit die seun uitgegaan. Dit het gelyk of die seun dood is, en baie van die mense het gesê hy is dood.
27. Jesus het sy hand geneem en hom opgehelp, en die seun het opgestaan.
28. Jesus het huis toe gegaan, en toe sy dissipels alleen by Hom was, het hulle vir Hom gesê: “Ons kon nie die onrein gees uitjaag nie. Hoekom nie?”
29. Jesus het hulle geantwoord: “’n Mens kan hierdie soort onrein gees net uitjaag as jy tot God bid.”
30. Hulle het van daar weggegaan en deur Galilea gegaan. Jesus wou nie hê iemand moes weet waar hulle is nie,
31. want Hy was besig om vir sy dissipels te leer. Hy het gesê: “God sal My, die Seun van die mens, vir die mense gee sodat hulle My kan doodmaak. Maar ná drie dae sal Ek weer lewe.”
32. Die dissipels het nog nie verstaan wat Jesus gesê het nie en hulle was te bang om vir Hom te vra wat sy woorde beteken.
33. Jesus en sy dissipels het in Kapernaum gekom. Toe Jesus in die huis kom, het Hy vir die dissipels gevra: “Waaroor het julle met mekaar gestry terwyl julle geloop het?”
34. Maar hulle het stilgebly, want terwyl hulle geloop het, het hulle met mekaar gestry oor wie die belangrikste is.
35. Nadat Jesus gaan sit het, het Hy die twaalf dissipels geroep en vir hulle gesê: “As iemand die belangrikste wil wees, dan moet hy die minste belangrik van almal wees en dan moet hy almal dien.”
36. Jesus het ’n kindjie geneem en Hy het die kindjie voor hulle laat staan. Hy het die kindjie in sy arms vasgehou en vir sy dissipels gesê: