7. Hulle het ook ’n paar vissies gehad. Jesus het dit geneem en weer vir God dankie gesê. Toe het Hy gesê sy dissipels moet die vis ook vir die mense gee.
8. Al die mense het genoeg geëet. Sy dissipels het die stukkies bymekaargemaak wat oorgebly het. Dit was sewe groot mandjies vol.
9. Daar was omtrent 4 000 mense wat geëet het. Toe het Jesus almal huis toe gestuur.
10. Jesus en sy dissipels het toe dadelik in ’n boot geklim en na plekke naby die stad Dalmanuta gegaan.
11. Daar kom toe Fariseërs en hulle het met Jesus begin stry. Hulle wou Hom toets en kyk wat Hy doen. Daarom het hulle vir Hom gevra om ’n wonderteken te wys wat van God kom.
12. Jesus het gesug en gesê: “Hoekom wil die mense wat nou lewe, ’n wonderteken sien? God sal nie ’n wonderteken vir hulle wys nie. Dit is seker.”
13. Jesus het weggegaan van die Fariseërs. Hy het weer in die boot geklim en na die ander kant van die see gegaan.
14. Die dissipels het nie genoeg brood saamgeneem nie. Hulle het net een brood by hulle in die boot gehad.
15. Jesus het sy dissipels gewaarsku en vir hulle gesê: “Julle moet oppas, julle moet versigtig wees vir die suurdeeg van die Fariseërs en die suurdeeg van koning Herodes.”
16. Die dissipels het daaroor met mekaar gepraat. Hulle het gedink Jesus sê dit omdat hulle nie brood gehad het nie.
17. Jesus het geweet wat hulle dink en Hy het vir hulle gevra: “Hoekom praat julle oor die brood wat julle nie het nie? Weet julle nie, verstaan julle nog nie? Hoekom is julle so hardkoppig?