14. Al die mense het oor Jesus gepraat, daarom het koning Herodes ook van Hom gehoor. Party mense het gesê: “Jesus is Johannes die Doper. Johannes het gesterf, maar hy lewe weer. Daarom doen hy wonderwerke.”
15. Party mense het gesê: “Hy is Elia.”Ander mense het gesê: “Jesus is ’n profeet, soos een van die profete wat lank gelede gelewe het.”
16. Toe koning Herodes van Jesus hoor, het hy gesê: “Ek het Johannes die Doper se kop laat afkap, en nou lewe hy weer.”
17-18. Herodes het voor daardie tyd soldate gestuur om Johannes te vang en te boei en in die tronk toe te sluit. Herodes het getrou met Herodias, sy broer Filippus se vrou, en Johannes het aangehou om vir Herodes te sê hy mag nie met sy broer se vrou trou nie. Daarom het Herodes vir Johannes laat vang.
19. Herodias het vir Johannes gehaat. Sy wou hom laat doodmaak maar sy kon nie,
20. want koning Herodes was bang vir Johannes. Hy het geweet Johannes is ’n goeie en ’n eerlike man en hy lewe naby God. Daarom het koning Herodes vir Johannes beskerm. Herodes het baie maal na Johannes toe gegaan om te hoor wat hy sê, en dan het hy bekommerd geword. Maar hy het weer en weer gegaan, want hy wou graag na Johannes luister.
21. Eendag het Herodias gesien sy kan nou vir Johannes laat doodmaak. Koning Herodes het verjaar en hy het ’n groot fees gehou vir al sy belangrike amptenare en offisiere en die belangrike mense van die provinsie Galilea.