29. Al die mense, ook die tollenaars, het gedink God oordeel reg oor hulle, en daarom het hulle gevra dat Johannes hulle moet doop.
30. Maar die Fariseërs en die skrifgeleerdes wou nie vir Johannes vra om hulle te doop nie, want hulle wou nie God se plan aanvaar nie, God se plan om hulle te red.
31. Jesus het ook gesê: “Wat kan Ek sê van die mense wat vandag lewe?
32. Hulle is soos kinders wat op die oop stuk grond in die stad sit. Party kinders sê: ‘Ons het vir julle trou-musiek op die fluit gespeel, maar julle wou nie dans nie.’ En die ander kinders sê: ‘Ons het vir julle ’n begrafnis-lied gesing, maar julle wou nie huil nie.’
33. So doen die mense ook met Johannes die Doper en met My. Hulle is nooit tevrede nie. Toe Johannes hier was, het hy nie saam feesgevier nie. Toe sê julle: ‘Daar is ’n duiwel in hom.’
34. Nou het Ek, die Seun van die mens, gekom en Ek vier graag fees. Nou sê julle: ‘Hy is ’n vraat en ’n dronklap. En Hy is ook ’n vriend van die tollenaars en van mense wat nie doen wat die Here in sy wette sê nie.’
35. Die mense wat regtig weet wat die wysheid van God is, is die mense wat in My en Johannes geglo het.”
36. Een van die Fariseërs het vir Jesus genooi om by hom te kom eet. Jesus het by die Fariseër se huis gekom en Hy het by die tafel gaan sit.
37. Daar was ’n slegte vrou in die stad, almal het geweet sy is ’n slegte vrou. Sy het gehoor Jesus is by die huis van die Fariseër om daar te eet. Sy neem toe ’n klip-kruikie met lekkerruik-olie
38. en sy gaan sit by Jesus se voete. Sy het aangehou huil. Sy het Jesus se voete met haar trane natgemaak en met haar hare afgedroog. Toe soen sy Jesus se voete en gooi die olie op sy voete.
39. Toe die Fariseër wat vir Jesus genooi het, dit sien, het hy gedink: As hierdie man ’n profeet was, dan sou hy geweet het watter soort vrou dit is wat aan hom raak. Hy sou geweet het sy is ’n slegte vrou.
40. Toe sê Jesus vir die Fariseër: “Simon, Ek wil vir jou iets sê.”En Simon sê: “Meneer, sê dit vir my.”
41. Jesus vertel toe vir hom ’n gelykenis: “Daar was twee mense wat geld geskuld het aan iemand wat vir hulle geld geleen het. Die een man het 500 silwer geldstukke geskuld, en die ander man het 50 silwer geldstukke geskuld.
42. Altwee mans kon nie hulle skuld betaal nie. Toe het die man wat die geld vir hulle geleen het, gesê hulle moenie die skuld terugbetaal nie, hulle mag die geld hou. Watter man sal die dankbaarste wees vir die man wat gesê het hulle mag die geld hou?”
43. Simon het gesê: “Ek dink die man wat die meeste geld geskuld het.”Jesus sê toe: “Jy het reg gedink.”
44. Toe draai Jesus na die vrou en Hy sê vir Simon: “Sien jy hierdie vrou? Toe Ek by jou huis gekom het, het jy nie vir My water gegee om my voete te was nie, maar hierdie vrou het my voete met haar trane gewas en met haar hare afgedroog.
45. Jy het My nie gesoen toe jy My gegroet het nie. Maar hierdie vrou het aangehou om my voete te soen vandat Ek ingekom het.
46. Jy het ook nie lekkerruik-olie op my kop gegooi nie, maar hierdie vrou het lekkerruik-olie op my voete gegooi.
47. Daarom sê Ek vir jou, God het die baie sondes wat sy gedoen het, vergewe. Toe sy hierdie dinge aan My gedoen het, het sy gewys dat sy lief is vir My. Dit wys ook sy is baie dankbaar dat God haar baie sondes vergewe het. Jy dink jy het min sondes, maar God het dit vergewe. Jy wys ook hoe min dankbaar jy is en hoe min jy lief is vir Hom.”
48. Jesus sê toe vir die vrou: “Ek vergewe jou sondes.”