Lukas 6:43-49 Bybel vir Almal (ABA)

43. ’n Goeie boom dra nie slegte vrugte nie, en ’n slegte boom dra nie goeie vrugte nie.

44. Hoe weet ’n mens watter soort boom dit is? Jy kyk na die boom se vrugte. ’n Mens pluk nie vye van ’n doringboom nie. Jy kan ook nie druiwe van ’n doringbos pluk nie.

45. Dit is dieselfde by mense: ’n Goeie mens praat en doen goeie dinge omdat hy in sy hart goed is. En ’n slegte mens praat en doen slegte dinge omdat hy in sy hart sleg is. Ja, ’n mens praat oor die baie dinge wat in sy hart is.”

46. “Hoekom sê julle so baie maal Ek is julle Here, maar julle doen nie wat Ek sê nie?

47. Ek sal vir julle verduidelik hoe is iemand wat na My toe kom en hoor wat Ek sê en wat dit doen.

48. Hy is soos ’n man wat ’n huis gebou het, en hy het die fondament van die huis diep in die grond gegrawe, tot op die rots. Toe kom daar ’n watervloed. Die rivier het vol water geword en die water het tot teen die huis gekom. Maar die rivier kon nie die huis wegspoel nie, want die man het die fondament goed gebou.

49. Maar hoe is iemand wat hoor wat Ek sê en dit nie doen nie? Hy is soos ’n man wat sy huis bo-op die grond gebou het. Die huis het nie ’n fondament gehad nie. Toe die rivier vol water word en tot teen die huis kom, het die huis dadelik inmekaar geval. Daar het niks van die huis oorgebly nie.”

Lukas 6