Lukas 6:10-21 Bybel vir Almal (ABA)

10. Jesus het na al die mense rondom Hom gekyk en Hy het vir die man gesê: “Steek jou hand uit.”Die man het dit gedoen, en toe was sy hand gesond.

11. Die skrifgeleerdes en Fariseërs het baie kwaad geword, hulle was woedend. Hulle het planne gemaak en gedink wat hulle met Jesus kan doen.

12. Nie lank daarna nie het Jesus na die berg gegaan om daar te bid. Hy het die hele nag tot God gebid.

13. Toe dit dag word, het Hy sy dissipels na Hom toe geroep. Hy het twaalf van hulle gekies en Hy het hulle apostels genoem.

14. Hulle name was: Simon, sy ander naam was Petrus, en ook sy broer Andreas, Jakobus, Johannes, Filippus, Bartolomeus,

15. Matteus, Tomas, Jakobus seun van Alfeus, Simon die patriot,

16. Judas seun van Jakobus, en Judas Iskariot wat later vir Jesus verraai het.

17. Daarna het Jesus saam met die apostels van die berg afgegaan en op ’n gelyk plek gaan staan. Daar was baie van sy dissipels en baie ander mense wat gekom het uit die hele provinsie Judea, en van Jerusalem en van die stede Tirus en Sidon by die see.

18. Hulle het almal na Jesus kom luister en hulle wou hê Hy moet hulle gesond maak. Daar was onrein geeste in party mense, en Jesus het daardie mense ook gesond gemaak.

19. Almal wou graag aan Jesus raak, want daar het krag uit Hom gekom en die krag het almal gesond gemaak.

20. Jesus kyk toe na sy dissipels en Hy sê vir hulle:Julle wat arm is, is gelukkige mense,want God is julle Koning.

21. Julle wat nou honger is,is gelukkige mense,want God sal vir jullegenoeg gee om te eet.Julle wat nou huil,is gelukkige mense,want julle sal lag.

Lukas 6