26. Mense sal sterf omdat hulle bang is, omdat hulle sal weet dat vreeslike dinge in die wêreld sal gebeur. Ja, God sal die hemel skud en alles wat daarin is.
27. Dan sal almal vir My, die Seun van die mens, sien. Ek sal op die wolke kom, en Ek sal alles kan doen wat Ek wil doen. Ek sal die Groot Koning wees.
28. Wanneer hierdie dinge begin gebeur, dan moet julle ophou om moedeloos te wees, want dan weet julle dat God julle gou sal kom vrymaak.”
29. Jesus het vir sy dissipels ’n gelykenis vertel. Hy het gesê: “Julle moet kyk na die vyeboom en al die ander bome.
30. Wanneer die blare begin groei, dan weet julle en kan julle self sien die somer is naby.
31. So ook: Wanneer julle al hierdie dinge sien gebeur, dan moet julle weet die tyd is naby wanneer God Koning sal wees.
32. Ek sê vir julle, en dit is seker: Party mense wat nou lewe, sal nog lewe wanneer al hierdie dinge gebeur.
33. Die hemel en die aarde sal eendag verdwyn, maar my woorde sal altyd waar wees.”
34. “Julle moet oppas, julle moenie julle geld mors en dronk word en bekommerd wees oor hoe julle sal lewe nie, want dan sal julle vir God vergeet. En die dag wanneer God Koning sal word, sal dan vir julle te skielik kom.
35. Dit sal wees soos ’n vangstrik wat skielik ’n voël vang. Ja, dit sal skielik gebeur met al die mense wat op die aarde woon.