21. Wanneer dít gebeur, dan moet die mense wat in Judea is, na die berge vlug. En die mense in Jerusalem moet weghardloop. En die mense buite die stad moenie na Jerusalem kom nie.
22. Want dit sal ’n tyd wees wanneer God die mense van Jerusalem sal straf, sodat alles kan gebeur wat in die Ou Testament geskryf is.
23. Dit sal in daardie tyd sleg gaan met vroue wat babas verwag of wat kinders het wat nog aan hulle drink. Want die mense in die land Judea sal swaarkry, God sal dan begin om hulle swaar te straf.
24. Die vyande sal party mense van Judea doodmaak. En hulle sal ander mense vang en wegvat na al die ander volke van die wêreld. Ander mense sal in Jerusalem kom woon en hulle sal die stad ontwy. En al hierdie dinge sal aanhou totdat die tyd kom wanneer die Here die volke sal straf.”
25. “Daar sal wonderlike dinge gebeur met die son en die maan en die sterre. Die mense op die aarde sal baie bang word, want alles sal deurmekaar wees. Die branders van die see sal so wild word dat die mense nie sal weet wat gebeur nie.
26. Mense sal sterf omdat hulle bang is, omdat hulle sal weet dat vreeslike dinge in die wêreld sal gebeur. Ja, God sal die hemel skud en alles wat daarin is.
27. Dan sal almal vir My, die Seun van die mens, sien. Ek sal op die wolke kom, en Ek sal alles kan doen wat Ek wil doen. Ek sal die Groot Koning wees.
28. Wanneer hierdie dinge begin gebeur, dan moet julle ophou om moedeloos te wees, want dan weet julle dat God julle gou sal kom vrymaak.”
29. Jesus het vir sy dissipels ’n gelykenis vertel. Hy het gesê: “Julle moet kyk na die vyeboom en al die ander bome.
30. Wanneer die blare begin groei, dan weet julle en kan julle self sien die somer is naby.