Lukas 21:15-27 Bybel vir Almal (ABA)

15. want Ek sal vir julle sê wat julle moet sê. Julle sal soos wyse mense praat en julle vyande sal nie weet wat om te antwoord nie, hulle sal nie kan sê julle praat verkeerd nie.

16. Ook julle ouers, julle broers, julle familie en julle vriende sal vir julle hof toe vat. Hulle sal party van julle ook doodmaak.

17. Almal sal julle haat omdat julle aan My behoort.

18. Maar julle sal nie verlore gaan nie, nie een haar van julle kop sal verlore gaan nie.

19. As julle aanhou glo, dan sal julle die ewige lewe kry.”

20. “Wanneer julle sien die soldate van die vyande is rondom Jerusalem, dan moet julle weet dit is nog net ’n kort tydjie, dan sal die vyande Jerusalem verwoes.

21. Wanneer dít gebeur, dan moet die mense wat in Judea is, na die berge vlug. En die mense in Jerusalem moet weghardloop. En die mense buite die stad moenie na Jerusalem kom nie.

22. Want dit sal ’n tyd wees wanneer God die mense van Jerusalem sal straf, sodat alles kan gebeur wat in die Ou Testament geskryf is.

23. Dit sal in daardie tyd sleg gaan met vroue wat babas verwag of wat kinders het wat nog aan hulle drink. Want die mense in die land Judea sal swaarkry, God sal dan begin om hulle swaar te straf.

24. Die vyande sal party mense van Judea doodmaak. En hulle sal ander mense vang en wegvat na al die ander volke van die wêreld. Ander mense sal in Jerusalem kom woon en hulle sal die stad ontwy. En al hierdie dinge sal aanhou totdat die tyd kom wanneer die Here die volke sal straf.”

25. “Daar sal wonderlike dinge gebeur met die son en die maan en die sterre. Die mense op die aarde sal baie bang word, want alles sal deurmekaar wees. Die branders van die see sal so wild word dat die mense nie sal weet wat gebeur nie.

26. Mense sal sterf omdat hulle bang is, omdat hulle sal weet dat vreeslike dinge in die wêreld sal gebeur. Ja, God sal die hemel skud en alles wat daarin is.

27. Dan sal almal vir My, die Seun van die mens, sien. Ek sal op die wolke kom, en Ek sal alles kan doen wat Ek wil doen. Ek sal die Groot Koning wees.

Lukas 21