37. Nadat hy gesterf het, het sy nie weer getrou nie. Sy was nou 84 jaar oud en sy was elke dag by die tempel. Sy het God elke dag en nag gedien en gevas en gebid.
38. Anna het by Josef en Maria gaan staan en sy het God gedank. Sy het oor Jesus gepraat met almal wat geweet het dat God Jerusalem wil vrymaak, almal wat daarvoor gewag het.
39. Josef en Maria het alles gedoen wat die wette van die Here gesê het en toe het hulle teruggegaan na hulle stad Nasaret in Galilea.
40. Die Kindjie het groot en sterk geword. God het vir Hom baie wysheid gegee en God was goed vir Hom.
41. Jesus se ouers het elke jaar na Jerusalem gegaan om die Paasfees te vier.
42. Toe Jesus twaalf jaar oud was, het hulle weer, soos altyd, na Jerusalem gegaan om die Paasfees te vier.
43. Toe die fees verby was, het Josef en Maria teruggegaan na Nasaret, maar Jesus het in Jerusalem agtergebly, en sy ouers het dit nie geweet nie.
44. Toe hulle sien Jesus is nie by hulle nie, het hulle gedink Hy is by die ander mense wat saam teruggegaan het. Hulle het ’n dag lank geloop en toe het hulle vir Jesus begin soek by hulle familie en vriende.
45. Hulle kon Hom nie kry nie en hulle het teruggegaan na Jerusalem om Hom daar te gaan soek.
46. Ná drie dae het hulle Hom in die tempel gekry. Hy het tussen die slim mense gesit en Hy het na hulle geluister en vir hulle vrae gevra.
47. Almal wat na Jesus geluister het, was baie verbaas omdat Hy so slim was en so goed kon antwoord.