Lukas 2:32-49 Bybel vir Almal (ABA)

32. Al die volke sal sien Hy is die ligen hulle sal u volk Israel eer.

33. Josef en Maria was baie verbaas oor wat Simeon gesê het oor Jesus.

34. Simeon het hulle geseën en hy het vir Maria, Jesus se ma, gesê: “Hierdie Kind het gekom, Hy sal wees soos ’n klip waaroor baie mense val, maar Hy sal ook baie mense red. Hy is die Redder, maar nie al die mense sal dit glo nie.

35. Daarom, Maria, sal jy baie swaar kry. Die mense sal oor Hom stry en so sal almal weet wat die mense oor hierdie Kind dink.”

36. Dieselfde dag was daar ook ’n profeet in die tempel. Haar naam was Anna en sy was baie oud. Sy was ’n dogter van Fanuel, uit die Aser-stam. Sy het getrou toe sy jonk was, en haar man het ná sewe jaar gesterf.

37. Nadat hy gesterf het, het sy nie weer getrou nie. Sy was nou 84 jaar oud en sy was elke dag by die tempel. Sy het God elke dag en nag gedien en gevas en gebid.

38. Anna het by Josef en Maria gaan staan en sy het God gedank. Sy het oor Jesus gepraat met almal wat geweet het dat God Jerusalem wil vrymaak, almal wat daarvoor gewag het.

39. Josef en Maria het alles gedoen wat die wette van die Here gesê het en toe het hulle teruggegaan na hulle stad Nasaret in Galilea.

40. Die Kindjie het groot en sterk geword. God het vir Hom baie wysheid gegee en God was goed vir Hom.

41. Jesus se ouers het elke jaar na Jerusalem gegaan om die Paasfees te vier.

42. Toe Jesus twaalf jaar oud was, het hulle weer, soos altyd, na Jerusalem gegaan om die Paasfees te vier.

43. Toe die fees verby was, het Josef en Maria teruggegaan na Nasaret, maar Jesus het in Jerusalem agtergebly, en sy ouers het dit nie geweet nie.

44. Toe hulle sien Jesus is nie by hulle nie, het hulle gedink Hy is by die ander mense wat saam teruggegaan het. Hulle het ’n dag lank geloop en toe het hulle vir Jesus begin soek by hulle familie en vriende.

45. Hulle kon Hom nie kry nie en hulle het teruggegaan na Jerusalem om Hom daar te gaan soek.

46. Ná drie dae het hulle Hom in die tempel gekry. Hy het tussen die slim mense gesit en Hy het na hulle geluister en vir hulle vrae gevra.

47. Almal wat na Jesus geluister het, was baie verbaas omdat Hy so slim was en so goed kon antwoord.

48. Toe Jesus se ouers Hom sien, was hulle baie bly, en sy ma het vir Hom gesê: “My Kind, hoekom het jy dit gedoen? Jou pa en ek het jou gesoek en ons was baie bekommerd.”

49. Maar Jesus het vir hulle gesê: “Hoekom het julle My gesoek? Het julle nie geweet nie? Ek moet hier wees, Ek moet oor my Vader praat.”

Lukas 2