14. As ’n persoon van die gewyde kos eet maar hy het nie geweet dat dit gewyde kos is nie, dan moet hy vir die priester ’n gewyde present gee en hy moet nog een vyfde van die kos daarby sit.
15. Die priesters mag nie die gewyde presente ontwy wat die Israeliete vir die Here offer nie.
16. As hulle dit doen wanneer hulle van die gewyde kos eet, dan sal hulle skuldig wees, en dan moet hulle ’n skuld-offer bring. Ek is die Here, Ek het hulle gewy.”
17. Die Here het vir Moses gesê:
18. “Jy moet vir Aäron en sy seuns en al die Israeliete sê: ’n Israeliet of ’n vreemdeling wil miskien ’n gelofte-offer bring, of hy het ’n offer wat hy graag self wil gee om ’n brand-offer vir die Here te wees.
19. Dan moet dit ’n gesonde bul of ram wees. Die Here sal dit aanvaar.
20. Maar as die dier nie gesond is nie, dan moet julle dit nie offer nie, want die Here sal dit nie aanvaar nie.
21. “En wanneer ’n persoon vir die Here ete-offers bring om ’n gelofte te betaal, of as hy graag ’n offer wil gee, dan moet hy ’n bees of ’n skaap of ’n bok offer wat gesond is. Die Here sal dit aanvaar, maar die dier moet heeltemal gesond wees.
22. Julle mag nie vir die Here ’n dier offer wat blind is of wat seergekry het of wat vratte op sy vel het of wat ’n velsiekte het nie. Julle mag nie so ’n dier op die altaar bring om ’n vuur-offer te wees nie.