Levitikus 22:1-14 Bybel vir Almal (ABA)

1. Die Here het vir Moses gesê:

2. “Jy moet vir Aäron en sy seuns sê hulle moet versigtig wees met die gewyde presente wat die Israeliete aan My wy, die priesters moenie my heilige Naam ontwy nie. Ek is die Here.

3. Jy moet vir hulle sê: Wanneer iemand van julle nageslag onrein is, en hy kom naby die gewyde presente wat die Israeliete aan die Here gewy het, dan moet julle hom afsny van my tempel. Ek is die Here.

4. Wanneer ’n man van die nageslag van Aäron melaats is of daar kom iets nat uit hom, dan moet hy eers rein word, en daarna mag hy eet van die gewyde presente.“’n Man word onrein as daar saad uit hom gekom het, of as hy aan ’n lyk geraak het.

5. Hy word ook onrein wanneer hy raak aan ’n man wat onrein geword het van enige een van die klein diertjies, of aan ’n mens wat onrein is.

6. Wanneer hy aan enige een van hierdie dinge of persone geraak het, dan sal hy onrein wees tot die aand. Hy moet eers bad voordat hy van die gewyde presente mag eet.

7. Hy sal rein wees nadat die son ondergegaan het, daarna mag hy van die gewyde presente eet, want dit is sy kos.

8. “Wanneer ’n dier self gevrek het of wanneer ’n wilde dier dit gevang het, dan mag ’n priester nie die vleis eet nie, want die priester sal dan onrein word. Ek is die Here.

9. Die priesters moet aanhou om te doen wat Ek wil hê, sodat hulle nie skuldig word en sterf omdat hulle die tempel ontwy het nie. Ek is die Here, Ek het hulle gewy.

10. Iemand wat nie ’n priester is nie, mag nie van die gewyde presente eet nie. ’n Priester se bywoner of sy dagloner mag nie van die gewyde presente eet nie.

11. As die priester ’n slaaf gekoop het of as ’n slaaf in sy huis gebore is, dan mag die slaaf van die priester se kos eet.

12. ’n Priester se dogter wat getroud is met ’n man wat nie ’n priester is nie, mag nie eet van die offers wat gewyde presente is nie.

13. As ’n priester se dogter ’n weduwee geword het of as sy geskei het van haar man en sy het nie kinders nie en sy gaan woon weer in haar pa se huis soos toe sy jonk was, dan mag sy van haar pa se kos eet. Iemand wat nie ’n priester is nie, mag nie van die kos eet nie.

14. As ’n persoon van die gewyde kos eet maar hy het nie geweet dat dit gewyde kos is nie, dan moet hy vir die priester ’n gewyde present gee en hy moet nog een vyfde van die kos daarby sit.

Levitikus 22