Levitikus 19:4-18 Bybel vir Almal (ABA)

4. Julle moenie afgode begin dien nie en julle moenie vir julle beelde maak van gode nie. Ek is julle God die Here.

5. “Wanneer julle vir die Here ’n ete-offer slag, dan moet julle dit so doen dat die Here julle aanvaar.

6. Julle mag die vleis eet op die dag wanneer julle die dier slag en julle mag dit ook die volgende dag eet. Maar as daar vleis oorbly tot die derde dag, dan moet julle dit verbrand.

7. As iemand op die derde dag van die vleis eet, dan sal die Here dit nie aanvaar nie, die vleis is onrein.

8. Ek sal die persoon straf wat dit gedoen het, hy sal skuldig wees, want hy het iets ontwy wat aan die Here gewy is. Julle moet daardie persoon afsny van sy volk.

9. “Wanneer julle koring of gars afsny, dan moet julle nie alles tot by die kant van die land afsny nie, en julle moenie die koring-are of gars-are optel wat val nie.

10. En wanneer jy druiwe pluk, dan mag jy nie ’n tweede maal deur jou wingerd gaan om nog druiwe te pluk nie. Jy mag ook nie die druiwetrosse optel wat val nie. Jy moet hulle los vir arm mense en vir vreemdelinge.

11. “Julle mag nie mekaar se goed steel of vir mekaar lieg of mekaar bedrieg nie.

12. “Jy mag nie vals wees wanneer jy iets belowe en sê die Here is die getuie nie. As jy dit doen, dan ontwy jy die Naam van jou God. Ek is die Here.

13. “Jy mag nie jou naaste verdruk en sy goed vir jouself vat nie. Jy moet elke dag die dagloner se beloning vir hom gee, jy moenie wag tot die volgende dag nie.

14. “Jy mag nie ’n dowe mens vervloek nie en jy mag nie in ’n blinde mens se pad iets sit waaroor hy kan val nie. Jy moet jou God respekteer en dien.

15. “Jy moenie verkeerd oordeel nie. Wanneer iemand skuldig is, dan mag jy nie sê hy is onskuldig nie, dit maak nie saak of hy ’n arm mens of ’n ryk mens is nie. Jy moet regverdig wees wanneer jy oordeel.

16. “Jy mag nie skinder van mense nie. Jy mag nie iets doen wat gevaarlik is vir ander mense se lewe nie. Ek is die Here.

17. “Jy mag nie ’n ander mens haat nie, jy moenie nét aanhou sê iemand is skuldig nie, jy moet ook vir hom sê wát hy verkeerd doen.

18. “Jy moenie dieselfde slegte ding aan ’n ander Israeliet wil doen wat hy aan jou gedoen het nie, jy moenie vir hom kwaad bly nie. Jy moet vir jou naaste so lief wees soos jy lief is vir jouself. Ek is die Here.

Levitikus 19