Levitikus 19:21-37 Bybel vir Almal (ABA)

21. Die man moet ’n skuld-offer vir die Here bring na die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Die skuld-offer moet ’n skaap-ram wees.

22. Die priester moet die skuld-offer offer om versoening te doen vir die sonde wat die man gedoen het. Dan sal die Here sy sonde vergewe.

23. “Wanneer julle in die land kom en julle plant vrugtebome, dan mag julle drie jaar lank nie die vrugte eet nie.

24. In die vierde jaar moet julle al die vrugte wy om vir die Here dankie te sê.

25. Van die vyfde jaar af mag julle die vrugte eet. Dan sal daar baie vrugte wees. Ek is julle God die Here.

26. “Julle mag nie vleis eet wat vol bloed is nie. Julle mag nie toor nie. Julle mag nie sê julle weet dinge wat ander mense nie kan weet nie.

27. “Wanneer julle wil rou, dan mag julle nie die hare langs die kante van julle kop en julle baard afskeer nie.

28. Julle mag ook nie julle liggame sny of prente op julle vel teken nie. Ek is die Here.

29. “Jy moenie jou dogter ’n prostituut laat word nie, want dan sal julle haar ontwy. Dan sal ander mense in die land ook prostitute word, en die land sal vol word van mense wat hierdie slegte ding doen.

30. “Julle moet my Sabbatdae vier en julle moet my tempel respekteer. Ek is die Here.

31. “Julle mag nie vir geeste van dooie mense of vir waarsêers vra wat julle wil weet nie. As julle dit doen, dan sal julle onrein word. Ek is julle God die Here.

32. “Jy moet opstaan wanneer ’n oumens na jou toe kom, jy moet hom respekteer en jy moet vir God respekteer en dien. Ek is die Here.

33. “Wanneer ’n vreemdeling by julle in die land woon, dan mag julle hom nie laat swaarkry nie.

34. Die vreemdeling moet vir julle wees soos ’n Israeliet, jy moet lief wees vir hom soos jy lief is vir jouself, want julle was ook vreemdelinge in die land Egipte. Ek is julle God die Here.

35. “Julle mag nie mense bedrieg wanneer julle meet en weeg nie.

36. Julle moet weegskale en gewigte gebruik wat reg weeg, en die efa of hin wat julle gebruik, moet reg wees. Ek is julle God die Here wat julle uit die land Egipte gebring het.

37. “Julle moet alles doen wat Ek sê en besluit. Ek is die Here.”

Levitikus 19