15. “Jy moenie verkeerd oordeel nie. Wanneer iemand skuldig is, dan mag jy nie sê hy is onskuldig nie, dit maak nie saak of hy ’n arm mens of ’n ryk mens is nie. Jy moet regverdig wees wanneer jy oordeel.
16. “Jy mag nie skinder van mense nie. Jy mag nie iets doen wat gevaarlik is vir ander mense se lewe nie. Ek is die Here.
17. “Jy mag nie ’n ander mens haat nie, jy moenie nét aanhou sê iemand is skuldig nie, jy moet ook vir hom sê wát hy verkeerd doen.
18. “Jy moenie dieselfde slegte ding aan ’n ander Israeliet wil doen wat hy aan jou gedoen het nie, jy moenie vir hom kwaad bly nie. Jy moet vir jou naaste so lief wees soos jy lief is vir jouself. Ek is die Here.
19. “Julle moet aanhou om te doen wat Ek vir julle sê. Julle mag nie verskillende soorte diere laat paar en kleintjies kry nie. Julle mag nie verskillende soorte saad in dieselfde land saai nie, julle mag nie klere dra wat julle gemaak het van verskillende soorte materiaal nie.
20. “’n Man het miskien seks met ’n vrou wat ’n slavin is, en haar eienaar het belowe dat ’n ander man haar mag kry. As die ander man haar nog nie losgekoop het nie, en haar eienaar het haar nog nie vry laat weggaan nie, dan moet die man wat seks gehad het met haar, boete betaal aan die eienaar. Hulle mag nie die man en die vrou doodmaak nie, want haar eienaar het haar nog nie vry laat weggaan nie.
21. Die man moet ’n skuld-offer vir die Here bring na die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn. Die skuld-offer moet ’n skaap-ram wees.
22. Die priester moet die skuld-offer offer om versoening te doen vir die sonde wat die man gedoen het. Dan sal die Here sy sonde vergewe.
23. “Wanneer julle in die land kom en julle plant vrugtebome, dan mag julle drie jaar lank nie die vrugte eet nie.
24. In die vierde jaar moet julle al die vrugte wy om vir die Here dankie te sê.
25. Van die vyfde jaar af mag julle die vrugte eet. Dan sal daar baie vrugte wees. Ek is julle God die Here.
26. “Julle mag nie vleis eet wat vol bloed is nie. Julle mag nie toor nie. Julle mag nie sê julle weet dinge wat ander mense nie kan weet nie.
27. “Wanneer julle wil rou, dan mag julle nie die hare langs die kante van julle kop en julle baard afskeer nie.
28. Julle mag ook nie julle liggame sny of prente op julle vel teken nie. Ek is die Here.
29. “Jy moenie jou dogter ’n prostituut laat word nie, want dan sal julle haar ontwy. Dan sal ander mense in die land ook prostitute word, en die land sal vol word van mense wat hierdie slegte ding doen.
30. “Julle moet my Sabbatdae vier en julle moet my tempel respekteer. Ek is die Here.
31. “Julle mag nie vir geeste van dooie mense of vir waarsêers vra wat julle wil weet nie. As julle dit doen, dan sal julle onrein word. Ek is julle God die Here.
32. “Jy moet opstaan wanneer ’n oumens na jou toe kom, jy moet hom respekteer en jy moet vir God respekteer en dien. Ek is die Here.