Levitikus 14:10-25 Bybel vir Almal (ABA)

10. Op die agste dag moet hy twee ram-lammers en ’n jaaroud ooi-lam na die priester toe bring. Die lammers moet almal gesond wees. Hy moet ook ’n koring-offer bring, die offer is drie tiendes van ’n efa van die beste meel, en hy moet een log olyf-olie bring.

11. Die priester wat die persoon moet reinig, moet dan die persoon en sy offers bring voor die Here by die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn.

12. Die priester moet dan een ram-lam neem en hy moet dit offer saam met die log olyf-olie. Dit is ’n skuld-offer, die priester moet dit heen en weer beweeg voor die Here, dit is ’n beweeg-offer.

13. Die priester moet dan die ram-lam slag op dieselfde plek waar hulle die diere vir die sonde-offer en die brand-offer slag. Hy moet dit op die gewyde plek slag, want die priester kry ook die sonde-offer en hy kry ook die skuld-offer. Dit is ’n hoog-gewyde offer.

14. Die priester moet dan van die bloed van die skuld-offer neem en hy moet dit smeer aan die regter-oor van die persoon wat hy moet reinig. Hy moet dit ook smeer aan sy regter-duim en sy regter-groottoon.

15. Die priester moet dan van die olyf-olie neem in sy linker-hand

16. en hy moet sy regter-vinger steek in die olie wat in sy linker-hand is. Hy moet die olie sewe maal voor die Here spat.

17. Die priester moet dan van die olie wat in sy linker-hand is, smeer aan die regter-oor van die persoon wat hy moet reinig. Hy moet ook van die olie aan sy regter-duim en sy regter-groottoon smeer, bo-oor die bloed van die skuld-offer.

18. Die priester moet dan die olie wat nog in sy hand oorgebly het, smeer aan die kop van die persoon wat hy moet reinig, en die priester moet voor die Here versoening doen vir die persoon.

19. Daarna moet die priester die sonde-offer offer en hy moet versoening doen vir die persoon sodat die persoon nie meer onrein sal wees nie. Daarna moet die priester die lam slag vir die brand-offer

20. en hy moet die brand-offer en die koring-offer op die altaar offer. Die priester moet so versoening doen vir die persoon, en die persoon sal dan rein wees.

21. “As die persoon arm is en hy het nie geld om vir die lammers te betaal nie, dan moet hy een ram-lam bring om ’n skuld-offer te wees. Dit is ’n beweeg-offer, sodat die priester vir hom versoening kan doen. Hy moet ook een tiende van ’n efa van die beste meel bring wat hy met olyf-olie gemeng en geknie het. Dit is ’n koring-offer. Die persoon moet ook ’n log olyf-olie

22. en twee tortelduiwe of twee makduiwe bring as hy dit kan koop. Een duif is vir ’n sonde-offer en een duif is vir ’n brand-offer.

23. Die persoon moet dan die lam en die duiwe op die agste dag na die priester toe bring, die priester wat hom moet reinig, voor die Here, by die ingang van die tent waar die Here aan die Israeliete verskyn.

24. Die priester moet die lam en die log olie neem en hy moet dit heen en weer voor die Here beweeg om ’n beweeg-offer te wees.

25. Daarna moet die priester die lam slag wat ’n skuld-offer is. Hy moet van die bloed neem en dit smeer aan die regter-oor van die persoon wat hy moet reinig, en ook aan sy regter-duim en sy regter-groottoon.

Levitikus 14